Stormloop op hande
Week 47 – 23 November 2012
Kommentaar deur die redakteur, Pieter Coetzee.
Die geskarrel om plek te kry op ‘n universiteit is nie ‘n nuutjie wat onlangs begin het nie.
Universiteitsopleiding was nog allerweë beskou as die kroon van onderwys en studierigtings. Dit is hier waar jou dokters, professionele ingenieurs, aptekers, boubestuurders, argitekte en prokureurs opgelei word, om maar net ‘n paar van die professionele rigtings te noem. Hierdie is natuurlik die droom van menige voornemede student maar min van hulle beskik oor die aanleg en verstandelike vermoë om hierdie vakrigtings te bemeester.
Dan is daar natuurlik die gewone Baccalaureus-grade in geesteswetenskappe, kunste, drama, musiek, natuurwetenskappe en dies meer. Ongelukkig gaan hierdie graad jou niks help in jou toekomstige beroep nie tensy jy reeds weet in watter rigting jy wil spesialiseer.
Wil jy ‘n onderwyser,‘n navorser in ‘n spesifieke rigting, ‘n skeikundige, ‘n geoktrooieerde rekenmeester word of wat ookal die beroep is wat jy wil navolg, jy moet met ‘n doel gaan studeer.
Net soos daar ‘n groot verskeidenheid van ingenieurs- en mediese beroepe is, moet jy darem ‘n idée in jou kop gevorm het wat jy daarmee gaan doen.
Hierdie is sekerlik een van die grootste probleme waarmee universiteite te doen het. Vanweë die feit dat skoolverlaters geen benul het waartoe hulle in staat is nie, sak hulle op universiteite toe, net soos daar destyds op die model-C skole toegesak is omdat hulle gereken het dat jy daar nie hoef te leer nie. Jou matrieksertifikaat sal jy kry. Baie van die druipelinge het rassisme weereens voorgehou toe hulle nie noodwendig geslaag het nie. Hierdie komende jaar gaan hulle mekaar weer vertrap by die toegangshekke van die universiteite omdat hulle reken om net ‘n ingeskrewe student te wees, jy klaar met ‘n graad in die hand gestop is.
Die meeste studente wat wel hul kursusse slaag se vakkeuse is gewoonlik sodanig dat hulle absoluut niks daarmee kan doen nie. Die rede hiervoor: Die maklikste vakke word geneem om jou graad te behaal, nie die moeiliker vakke wat nodig is om jou in ‘n spesialisrigting in te stuur nie. Ek glo nie eens dat ons eie president hierdie konsep verstaan nie. Orals word daar net gepraat van meer universiteite bou.
Wat het geword van ons gewone ambagskolleges en kolleges vir gevorderde tegniese onderwys? Dit is deur ‘n afgewaterde Technikonstelsel vervang waar pleks van dat die studente ‘n ambag geleer word waar hy leer om iets met sy hande te vervaardig en vir diegene wat verder wou gaan, geleentheid gebied het om tot op graad-vlak te kwalifiseer. Dit was egter nooit erken nie al het jy in baie gevalle dieselfde handboek in aerodinamika, sterkteleer, wiskunde en vliegtuigontwerp gebruik as die ingenieurs wat hulle kwalifikasie op universiteitsvlak bereik het. Dieselfde vraag kan gevra word oor die afskaffing van ‘n baie doeltreffende vakleerlingskap- en onderwysopleidingstelsel. Hoekom is dit tot niet gemaak? Hoeveel jare se kundigheid het nie reeds verlore gegaan deur die nie-opleiding van die jeug. Vergeet maar van al die kundiges wat die land verlaat het vir ‘n beter toekoms oorsee.
Hieruit is dit duidelik dat nie almal unversiteit- of technikonmateriaal is nie. Tegniese kolleges waar mense opgelei word in die teorie en masjienvervaardigheid in die vervaardiging van komponente is nodig. Dit is die enigste begin om die bevolking weer op te lei in vaardighede sodat hulle uiteindelik hul plek in die samelewing kan volstaan. Daar waar hulle ook deel kan wees om die probleme van dienslewering op te los en werklossheid te oorkom in plaas daarvan om daaroor te staak.
As jy dus groen koring op die land het, belê nou in ‘n studiebeurs sodat jou kind behoorlike opleiding kan ontvang en jy nie hoef op te kyk na ‘n hulpelose regering nie.