HFM Oud-leerders se buitengewone prestasies

THABAZIMBI – Die vraag word dikwels gevra of plattelandse skole leerders voldoende voorberei om sukses te behaal in verdere akademiese opleiding. As daar na die prestasies van die De Kock-susters gekyk word, is die antwoord beslis ja.

Hierdie drie oud-leerders van Hoërskool Frikkie Meyer het uitmuntend presteer deur voort te bou op die stewige grondslag wat deur HFM gelê is.

Anell, die oudste dogter, het matriek geslaag met ses onderskeidings en daarna as mediese dokter by Tukkies kwalifiseer met ‘n gemiddeld van 72%. Tydens haar gemeenskapsorgjare in Potchefstroom het sy ook diplomas in anestesiologie en noodgeneeskunde behaal. Sy praktiseer tans by Dokters De Kock en vennote.

Berna is na matriek na NWU waar sy MSc Biokinetika met lof verwerf. Sy verhuis na Bloemfontein waar sy haar PhD in biokinetika met spesiale vermelding voltooi. Sy tree ook op as spreker by ‘n internasionale kongres in September 2012.

Louise de Kock matrikuleer in 2006 met ‘n gemiddeld van 94% waarna sy medies aan die UOVS gaan studeer. Sy verwerf in 2011 haar MB ChB-graad cum laude met die beste prestasie in 7 van die 9 vakke. Sy is ook die top akademiese student in haar klas met ‘n gemiddeld van 83% oor haar vyf studiejare. Sy wen verder ook die Dekaansmedalje vir “Beste prestasie deur ‘n finalejaarstudent in ‘n eerste Baccalaureusgraad in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe. Sy is tans besig met haar internskap by die Universitas Akademiese Hospitaalkompleks.

Volgens hulle ouers het die leidende rol wat HFM in hul vormingsjare gespeel het, ‘n groot invloed gehad op die sukses wat hulle na skool behaal het. Die basis vir hul kwalifikasies is geleë in ‘n plattelandse gemeenskapskool wat voortdurend daarna streef om ‘n hoë akademiese standaard te handhaaf deur ‘n personeelkorps wat toegewyd is aan die opvoedingstaak.

Hoërskool Frikkie Meyer is trots om deel te kon wees van die De Kock-susters se fenomenale akademiese sukses. Baie geluk, HFM is saam met die gemeenskap trots op julle uitsonderlike prestasies.

Die De Kock-susters, Berna, Anell en Louise.