Geweldige rukwind ontwortel bome

SENTRUM – Derduisende rande se skade is aangerig op die plaas Blinkwater van Oom Gert en Tannie Susan Roets nadat ‘n geweldige rukwind, wat beter beskryf kan word as ‘n “ligte tornado”, die plaas Saterdagaand, 24 November, getref het.

Oom Gert Roets het as klein seuntjie in 1937 op die plaas aangekom. Hy boer met “alles wat lewe”, beeste, skape tot bokke en selfs wild. Volgens oom Gert het hulle die bome self daar begin aanplant, so ook die Apiesdoringboom wat in 1970 geplant is, wat Saterdagaand gedurende die storm gedeeltelik op die huis geval het.

Die boom was 42 jaar oud en sy skaduwee ‘n deursnee van ongeveer 60m. Die familie het altyd onder dié kuierboom gesit in die middag en onder die boom gebraai as die kinders kom kuier het. Vir hulle was die boom al sinoniem met gesinstyd.

Die eerste teken van die geweldige storm, wat slegs ‘n kortstondige vyf minute geduur het, was die swaar weer. Oomblikke later het ‘n sterk suiderwind opgesteek met vreemde klanke wat die huis gevul het. ‘n Oorverdowende klapgeluid, wat hulle aanvanklik gedink het ‘n weerligstraal was wat die boom raak geslaan het, het die gesin na veiligheid laat haas totdat die storm uitgewoed het. By nadere ondersoek het hulle vasgestel dat die groot boom wel omgeval het. Onder die boom het oom Gert se Toyota Avensis gestaan, die skade kon nog nie bepaal word nie.

Hulle het gereken dat dit dalk al skade was wat die storm gedurende die korte duur kon berokken. Oom Gert se kleinseun, Koos du Plessis en ‘n vriend, Nico Maartens, het egter uitgegaan om te probeer vasstel wat die omvang van die skade was. Hulle het geskok teruggekeer met die slegte nuus dat ‘n groot knoppiesdoring boom, oom Gert se seun Pieter Roets, wat ongeveer 100m verder woon , se drie weke oue Toyota bakkie plat geval het en ‘n hele paar bome is ontwortel. Die kremetart- en apiesdoringbome was albei oor die 50 jaar oud en goed gevestig. Die kremetart boom het ‘n stoep wat aan die huis gebou was erg beskadig. Bome wat ontwortel is het krale erg beskadig en van die diere moes gered word wat onder die boom vasgekeer was. Kwêvoël het verneem dat daar ongeveer 17 bome so ontwortel is om die twee woonhuise. Heelwat meer bome is egter op die res van die plaas ontwortel. Die gesin het 97mm reën na die storm gemeet.

Die Roetse se geliefde 42-jarige Apiesdoring “kuier” boom, met ‘n lieflike skadu deursnee van 60m, is op Saterdag 24 November deur ‘n geweldige rukwind, wat slegs beskryf kan word as ‘n “ligte tornado” uit die grond geruk. Die Mahindra-bakkie op die foto het die omgekeerde boom rakelings gemis en het nie ‘n skrapie opgedoen tydens die ontworteling nie.