Thaba se swartskaap, Dwelmverslawing
THABAZIMBI – In die lig van die reuse dwelmverslawing probleem wat die gemeenskap hom tans in die gesig staar, het Kwêvoël aangeklop by Daleen Venter, ‘n Pastoral Berader by Medi-Clinic in Thabazimbi om ‘n drietal reeks rakende dwelmverslawing te skryf.
Deel 1: Hoekom raak ek aan dwelms verslaaf?
Alan I. Leshner, MD- Addiction is a brain disease expressed in the form of compulsive behavior
Die nuwe uitgangspunt is om te praat van ’n persoon met ’n chemiese afhanklikheid. Die neerhalende term verslawing word vervang met afhanklikheid. Daar word gepraat van die persoon met die chemiese afhanklikheid wat meer erkentlik is teenoor die persoon se totale menswees. Die terme klink lomp en omslagtig maar gee meer erkenning aan die menswaardigheid en ander kwaliteite van ons medemens. Verslawing is vir so lankal ’n neerhalende skaamkry ding in ons samelewing, tog ken elke een van ons iemand in ons naby vriendekring of familie wat een of ander verslawing het. Die nuwe uitkyk op chemiese afhanklikheid is nie om die euwel van dwelmmisbruik of ander verslawings goed te praat of te verskoon nie, maar om ’n gemakliker area te skep vir die verslaafde en sy of haar familie om oor hierdie dinge te kommunikeer. Dit skep ook die geleentheid om op ’n meer mensgerigte vlak na die verslaafde te kyk en die skokkende besef in te neem, dat dit ek of jy, kan wees.
Pynlike genetiese oorerwing het ’n oorsaak
Ons hoor so dikwels verslawing is oorerflik. Wat beteken dit nou eintlik? Die brein het reseptore bekend as gaba-serotonien-, dopamien-en endorfienreseptore. Alkohol is bv. een van die chemiese stimulante wat op hierdie reseptore inwerk. Die effek kan wissel van totale kalmering, euforie, aggressie en bravade tot uiterste skeppende denke. Hierdie gedragsafwykings is geneties gekoppel en beteken dat die persone met chemiese afhanklikheid ook ‘n genetiese patroon volg. In ’n studie onder 3000 kinders met gedrags-, konsentrasie- en leerprobleme oor ’n tydperk van 10 jaar het verskillende feite na vore gekom:
– “Swart skape” in ’n familie is meestal so a.g.v. ’n breinchemieseversteuring.
– Talent in sport, musiek, politiek , kuns, tegnologie, rekenaarwese, wetenskap , sielkunde en filosofie is dikwels in die families te vind.
– Siektepatrone soos diabetes, allergieë , sinusitis, asma, ekseem, hoë bloeddruk , hormoonversteurings, skildklierkwale, spastiesedermsindroom en hartaanvalle kom algemeen in die families voor. Kanker kom selde voor behalwe waar die persoon se gesondheid aangetas is deur erge trauma , fisiek of geestelik.(Let wel nie alle talentvolle of siek persone het ’n brein chemiese versteuring nie.)
– Die dopamienstelsel van die mens het hoofsaaklik te doen met die afhanklikheid van stimulante. Kafeïen , nikotien en kokaïen werk hoofsaaklik op hierdie stelsel in. Gevaarlike sportsoorte, dobbel, patologiese diefstal, vloekery , brandstigting en seksuele vergrype het waarskynlik ook met die aktivering van hierdie stelsel te doen. Die dopamienstelsel is belangrik vir konsentrasie, leerprosesse en motoriese vaardighede. Gedragsprobleme , aandagafleibaarheid en disleksie hou dus ook verband met hierdie stelsel. Kinders wat onder hierdie verskynsels gebuk gaan is besonders vatbaar vir die misbruik van stimulante, alkohol en straatdwelms.
– Die adrenalien en noradrenalienstelsel het met die veg-of-vlug respons van die mens te doen. Aggressie, woede, irritasie en geweld word deur adrenalien aangevuur. Die ander kant van die adrenalienrespons het te doen met angs, spanning, vrees, paniek, ontvlugting en vermyding. Fisiese reaksies soos hartkloppings, maagswere, hartkwale en hoë bloeddruk is waarskynlik te wyte aan chemiese oor aktiwiteit in hierdie stelsel.
In Suid-Afrika sit ons met die geenstigterseffek wat beteken dat ons genetiese erfenis wat met baie talente geseën is ook die vloek van wanbalans insluit.
Die wonderwerk van moderne neurochemiese navorsing het die mediese wetenskap in staat gestel om die meeste afhanklikheids- en gedragversteuringsprobleme wat hierbo genoem word met veilige medikasie in die vorm van adrenalienblokkers, gemoedstabiliseerders, serotonien-en dopamienstimulante en blokkers op primêre vlak te behandel. Vroeë diagnose en korrekte inligting is van onskatbare waarde om gevaar simptome raak te sien en professioneel te laat evalueer. As jou familie met ’n verskynsels soos gedrags- en leerprobleme, chemiese en substands afhanklikheid, kompulsies en aandagafleibaarheid in die familie worstel , maak ’n afspraak by ’n medikus wat goed onderlê is in die opspoor en regstelling van breinchemieversteurings. Verwysing- Deur Trauma Maretha Maartens . Danie van der Merwe, Medikus.
Daleen Venter is ‘n Pastorale berader en beroepsvoorligter, Praktykno: SMEM 2212002001, kontak nommer 082 552 1283.