Community

Stakende mynwerkers gooi klip

Deur Deon Krige

 

AMANDELBULT – Vier skofbase van Anglo Platinum se 15 Oos-skag wat onderweg was na hul werk op Maandagoggend 12 November, se voertuig waarin hulle gereis het, is deur stakende mynwerkers met klippe bestook.

Die vier werknemers, Frik Jooste, Robbie Robertse, Pieter du Plessis en die motoreienaar, Jan Booysen, sê daar was ‘n groep van ongeveer 30 stakers wat die voertuig met klippe bestook het toe hulle by die myn pad ingedraai het om by die myn uit te kom.

Drie van die klippe het groot skade aangerig toe een van die kantvensters stukkend gegooi. Die klippe wat die windskerm getref het, het dit laat kraak, maar nie gebreek nie. Hulle moes laag af buk om te verseker dat hulle nie teen die kop raakgegooi word nie.

Etlike minute voor die voorval het hulle die polisie, wat ontplooi was om onluste by die skaking te keer, teëgekom. Die SAPD het hulle egter nie gewaarsku dat die stakers besig was om amok te maak nie.

Booysen het as gevolg van die glasstukke ‘n wond op die kant van sy nek. Jooste se een vinger is ook beseer tydens die insident. Booysen sê “as ek nie my kop weggedraai het toe die klippe deur die venster gekom het nie, sou ek beheer oor die kar verloor het en al vier van ons kon dood gewees het”.

Hulle het hul misnoë uitgespreek teenoor die stakers, die myn en die polisie omdat hulle nie ‘n waarskuwing oor moontlike gewelddadige betogings gekry het nie.

Booysen het aan Kwêvoël vertel dat hy al oor die naweek vir sy vrou gesê het dat hy ‘n slegte gevoel oor Maandag gehad het.

Die beskadigde voertuig van Jan Booysen nadat stakende mynwerkers dit met klippe gegooi het.