Community

AfriForum stig tak in Thaba om probleme aan te pak

THABAZIMBI – Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan nou proaktief betrokke raak in Thabazimbi deur ‘n plaaslike tak te stig en die gemeenskap sy stem terug te gee.

Die eerste saak wat die tak gaan aanpak is water. Nie net die water in die Krokodilrivier nie, maar ook die dorp se drinkwater wat nie standhoudend deur die munisipaliteit gelewer word nie. Na bewering vloei rou riool in die Rooikuil- en Krokodilrivier in, omdat die rioolaanleg nie op standaard is nie. Dit bekommer boere in die omgewing. Water vir toetse is reeds uit die Krokodilrivier geneem en dié water word tans in Pretoria geanaliseer om te sien hoe dit waterbesproeiingsaktiwiteite kan affekteer.

Nog ‘n probleem is dat die water dan ook na die grondwater insyfer wat as ‘n bron van drinkwater dien.

Met hulle besoek aan die rioolwerke kon AfriForum sien dat die werke nie optimaal funksioneer nie en dat daar soms ‘n baie sterk reuk in die omgewing se lug hang as gevolg van die rioolplaas wat nie die groot toename in riool kan hanteer nie.

“Die land is in ‘n groot verknorsing oor die onsekerheid van standhoudende varswater en ons kan nie bekostig om niks te doen terwyl die munisipaliteite ons waterbronne afskeep en verniel nie,” het Wesley Martin, ‘n organiseerder by AfriForum, gesê.

AfriForum sterk menige gemeenskappe se hande deur hulle plaaslike takstrukture. Talle suksesse om die omgewing te beskerm en hul lede se regte af te dwing is al behaal met betrekking tot swak dienslewering.

Vir meer inligting of om betrokke te raak skakel Wesley by 079 490 2611. “Hoe meer mense by die tak aansluit, hoe sterker sal hy wees en hoe groter is die impak wat ons op ons toekoms in Thabazimbi kan maak. Ons vra ook dat enigiemand wat inligting oor water kwessies het dit per e-pos na wesley@afriforum.co.za stuur.” Het hy aan Kwêvoël gesê.

Wesley Martin, ‘n organiseerder by AfriForum besig om ‘n watermonster te neem reg langs die rioolwerke.