Reier-ma herenig met haar kuikens
THABAZIMBI – ‘n Dooie boom waarin ‘n reier-paar hul nes gebou het om hul kuikens te huisves, het op Saterdagaand 27 Oktober na ‘n stormwind by die tuiste van Sarel en Annelie Pelser omgeval.
Die nes, wat volgens Sarel deur draad versterk was, het saam met die boom ten gronde gegaan met die broei-paar se drie kuikens steeds in die nes. Volgens Annelie was dit egter merkwaardig dat die groter kuiken sy vlerkies oopgesprei het sodat die twee kleiner kuikens daaronder kon skuil terwyl die reën neergestort het. Tania van Thabazimbi Animal Rescue is dadelik ontbied om hulp te verleen. Hulle het by vier verskillende rehabilitasie sentrums verneem dat wanneer die kuikens eers in menslike sorg geplaas is, die ma haar kuikens sou verstoot.
Annelie en Tania het besluit om die kuikens uit die reën na die TAR skuiling te neem en self te versorg aangesien die ma nêrens in sig was nie. Omstreeks 02:00 die volgende oggend het Annelie die ma-reier se hartroerende roepe na haar verlore kuikens aangehoor. Sy en haar man het besluit om vroegdag ‘n stallasie te bou sodat die nes weer daarop aangebring kan word. Hulle sou dan poog om die ma met haar kuikens te herenig. Intussen het Tania platannas gevang en dit stukkie vir stukkie vir die kuikens gevoer.
Vroeg Sondagoggend het Annelie vir Tania laat weet dat hulle ‘n stallasie gebou het waarop hulle die nes geplaas het sodat die kuikens weer met hul ma herenig kon word.
Vanaf 06:00 tot 17:00 het die Pelsers met hul verkykers die proses angstig dopgehou in die hoop dat die reier-ma, teen die natuurlike proses sou gaan en weer haar kuikens sal terugneem. Sy het op ‘n afstand van sowat 100m van die nes af begin en stelselmatig nader aan haar kuikens beweeg totdat sy uiteindelik teen Sondagaand 18:00 in die nes was en hulle begin voer het, het ‘n verligte Annelie aan Kwêvoël vertel. Foto: Morne Carstens.
Die ma-reier wat haar kuikens voer nadat sy weer met hul herenig is.