Onwettige vullis-storting langs Nasionale Pad
THABAZIMBI – Inwoners van Thabazimbi ry steeds die ekstra myl na die buitewyke van Thabazimbi opsoek na ‘n nuwe stortingsterrein vir hul gemors, eerder as om dit na die Munisipale vullishope te neem waar dit op ‘n beskaafde manier ontslae van geraak kan word.
Die D1485 Provinsiale pad, beter bekend as die Marakele pad, is een van die paaie waarlangs onwettige vullis-storting gereeld plaasvind en veroorsaak groot frustrasie by die erf-eienaars langs dié gesogte stukkie pad.
By navraag aan die Munisipaliteit rakende die onwettige storting van huishoudelike sowel as tuinvullis, het die Munisipaliteit se Kommunikasie-afdeling gesê dat hulle hul hande vol het om vullisverwydering vanaf onwettige stortingsterreine te doen, terwyl hul tyd en hulpbronne beter benut kon word indien hulle nie nodig gehad het om agter morsjorse aan te ry en op te ruim nie.
Die Munisipaliteit is veronderstel om slegs vullisverwydering vanaf huishoudings te verwyder en nie nog by onwettige stortingsterreine skoon te maak nie, iets waarvoor hulle glad nie betaal word nie.
Die Munisipaliteit doen ‘n beroep op die gemeenskap om hulle nie skuldig te maak aan onwettige vullis-storting nie en om die omgewing te respekteer.
Erwe naby Bosbokstraat loop gereeld onder onwettige vullis-storting deur.