Bekende Thabazimbiër oorlede

THABAZIMBI – ‘n Bekende inwoner van Thabazimbi, Dawie Roux (64) is op Maandag 15 Oktober oorlede.

Dawie het sy Laerskool loopbaan te Laerskool Marikana voltooi en sy Hoërskool loopbaan te Rustenburg Hoër. Hy was werksaam by Anglo Platinum Myn en vir die laaste vyf jaar die koster by die NG Kerk, Thabazimbi.

Dawie was vir 37 jaar getroud met Ella. Uit die huwelik is Juanita en Dewald gebore.

Dawie sal onthou word vir sy vriendelikheid, behulpsaamheid en onbaatsugtige bystand en hulpvaardigheid aan sy medemens. Hy het ook altyd reggestaan met ‘n grappie.

Sy gesin, eggenote Ella, dogter Juanita, skoonseun Luan en seun Dewald, bedank graag die gemeenskap vir hulle ondersteuning, asook ieder en elk vir die gebede, blomme, kaartjies en woorde van ondersteuning.

Dawie is op Vrydag 19 Oktober 2012 vanuit die NG Kerk Thabazimbi begrawe, die diens is gelei deur ds Johan Marais en die teraardebestelling deur dr Thinus Benadé.

Dawie Roux (64), se plekkie in die Bosveld is nou leeg.