ATKV-Kunsuitstalling groot sukses

THABAZIMBI – Die ATKV-tak Thabazimbi in samewerking met Dewside Restaurant het  ‘n baie suksesvolle Kuns-a-la-Carte naweek vir ons plaaslike kunstenaars aangebied. Altesaam  27 kunstenaars se werke is uitgestal – wat ‘n belewenis.  Daar was regtig iets vir elke smaak!

Die hoogtepunt van die naweek-lange uitstalling was die Openings-Gala-aand, Vrydagaand. Die aand is met ‘n kaas-en-wynproe aangebied met ‘n groot verskeidenheid van Kleine Zalze wyne. Die aand is verder gekomplimenteer met die rustigheid van kamermusiek met die pragtige  stem van Nelré Benade met Mariaan Senekal as begeleier terwyl Alta Eloff soos gewoonlik met die suiwer klanke van die dwarsfluit getoor het. Dit het die klem weereens geplaas op nie net die wonderlike skildertalent in Thabazimbi nie, maar ook die uitsonderlike musiektalent in ons midde. Die ATKV beloof reeds dat hulle volgende jaar ‘n spesiale Musiekaand gaan aanbied.

Onder die meer bekende uitstallers was Lute Vink van Leeupoort wat reeds landwye erkenning het vir sy realistiese wild en ander plaasdiere. Om nie te vergeet van sy uitsonderlike stillewe, wat ook te siene sal wees tydens die Feestyd Safari vanaand.

Coreen Combrink het reeds tydens vorige uitstallings by die Wildsfees haar naam begin maak met veral haar besonderse kleurgebruik met haar zebra skilderye.

‘n Nuwe-ouling was Leone Offermeier, ‘n kunstenaar wat in Thabazimbi grootgeword het en haar kuns nou in Gauteng beoefen asook nog ‘n boorling van die Bosveld, Mientjie Broekhuizen, wat reeds etlike jare gelede met haar gesin weer in die Thabazimbi Bosveld hervestig is.

Maro het weereens met nuwe bravade haar kunswerke kom vertoon, saam met talle skilderye van hoogstaande gehalte van haar leerlinge.

Petro van der Merwe, wat ook haar eie kunsskool bedryf het ook nou tot die Thabazimbi skildergilde toegetree en daar kan met groot afwagting uitgesien word na die volgende kunsuitstalling van Thabazimbi se kunstenaars en hulle studente.

Gaste het tot laataand heerlik saam gekuier en die kunswerke van nader beskou. Die kunsuitstalling was oop vir besoekers gedurende Saterdag oggend en middag asook Sondagoggend tot 14:00. Deurentyd kon besoekers heerlike etes bestel of sommer in die kroeg saamkuier.

Dewside restaurant en kroeg is een van die besoekpunte op die Feestyd Safari-roete wat deur Laerskool Thabazimbi vandag (Vrydagaand 2 November) aangebied word. Verskeie van die werke sal steeds besigtig kan word en dit gaan die moeite werd wees om dit dalk een van die latere besoekpunte te maak en sommer ‘n heerlike aandete te geniet met iets om die keel nat te maak.

Slegs ligte etes soos bobotie-en-rys, hoenderslaai, bief- en gerookte hoenderborsie-broodjies en ‘n lekker soetigheid vir nagereg sal op die spyskaart wees.

Amanda, links, en Marieta by die Kleine Zalze Wynproetafel. Amanda het die wynproe baie smaakvol en elegant aangebied.