Community

Suksesvolle 24h spinathon

THABAZIMBI –  Groot opgewondenheid het op Vrydagmiddag, 5 Oktober geheers met die eerste 24 uur Spinathon vir Borskanker Bewusmakingsmaand wat by die Pick n Pay Sentrum afgeskop het.

Nege spanne het deel geneem en ‘n totale afstand van 6411km is afgelê in die 24 uur. 182 entoesiastiese fietsryers het deelgeneem aan die prettige 24 uur van seer boude en bene. Verder het daar hare gewaai en loop hier nou heelwat kaalkoppe in die dorp rond.

Die hartsnare was geroer met die gedenksakkies wat Helpende Hande vir kanker oorwinnaars en ter nagedagtenis van kankerleiers wat die stryd verloor het, gemaak het. Die hele nag het kersies gebrand vir al hierdie spesiale mense in almal se lewens wat so baklei en al baklei het teen die groot K.

Die spanne het individueel die volgende afstande afgelê: Span 1 – 811.96km, Span 2 – 736.26km, Span 3 – 666.97km, Span 4 – 699km, Span 5 – 689.94km, Span 6 – 635.44km, Span 7 – 696.99, Span 8 – 682.89km en Span 9 – 696.94km.

Die wenners met die verste afstand per fiets was Span 1 van Active Life Gym, die span met die meeste gees was Safari Toys (Mauritz en Rika), die span wat die mooiste gelyk het was Van Heerden Apteek en die span met die seerste boude is die Kickboxers (Peet Van Breda), julle is klomp vasbyters en ons kan sien “julle kan, wil en sal”.

Namens Active Life Gym wil die organiseerders baie dankie sê aan almal wat die 24 uur Spinathon vir Borskanker Bewusmakingsmaand ondersteun het. Dit was een groot sukses en die gees was groot.

‘n Groot dank ook aan die borge: Fanie Venter van Sanlam (hoofborg), Wimpy, Pick n Pay, Van Heerden Apteek, Postnet, H & S Ys (Lena), Evox (Charmaine Benade), Oasis Water, Thaba Spar, Suikerbekkie vir die ballone en Butlers vir die lekker platter hier in die vroeë oggend-ure, hulle is almal mense met groot harte.

Aan TAR en Pick n Pay baie dankie vir die heerlike worsbroodjies en pannekoeke wat verkoop was. Wimpy wat vir 24 uur oop was, dit word waardeer. Die organiseerders bedank die gemeenskap wat donasies gegee het. Al hierdie fondse gaan aan Helpende Hande, die plaaslike organisasie wat kankerleiers bystaan.

Die organiseerders sien reeds uit na volgende jaar wanneer die bosveld selfs verder gaan trap vir Borskanker Bewusmakingsmaand en spreek die hoop uit dat hulle nog meer spanne betrokke sal kry.

Adele Lamprecht en Rykie May van Helpende Hande Thabazimbi, die plaaslike organisasie wat kankerleiers bystaan.