Editorial

Nog net ‘n ekstra kraan

Week 44 – 2 November 2012

Kommentaar deur die Redakteur, Pieter Coetzee

 

Nieteenstaande die feit dat Suid-Afrika een van die dertig droogste lande is, gaan die regering met hulle mineraalplanne, veral die ontginning van steenkool, tekere asof meer water geskep kan word deur eenvoudig net ‘n ekstra kraan by die reeds oorlaaide watertoevoerpyp te voeg.

Geen Afrika regering besef waaroor die bewaring van natuurlike hulpbronne gaan nie, maar is voor in die koor om die nywerheidslande oor die vingers te tik in terme van aardverhitting, nie dat dit nie bestaan nie, maar geen Afrikaan het enige begrip waaroor aardverhitting gaan nie. Hoeveel bome word nie jaarliks vernietig vir brandhout nie? Hoeveel vleilande word in Suid-Afrika daagliks deur mynbou vernietig deur die gierigheid van swart mense in hul Malema strewe om goue kettings en skerppuntskoene te dra en duur motors te ry? Moet sê, die witmense is ook maar net so gierig as hulle die kans kry, al besef hulle deeglik wat se invloed hul gierigheid op die nageslag gaan hê. Hulle leef hulle ook maar voort in die Afrika-tradisie van leef vir vandag. Deel hiervan is die daarstelling van laeklas-behuising vir werknemers in woonbuurtes waar die eienaars van huise en besighede juis probeer om die spesifieke woongebiede op te hef. “Solank dit net nie hulle bure is nie” – Die “baas” bly eerder in ‘n eko-park of iets dergerliks in plaas van in dieselfde kompleks as sy werkers waar hy die geleentheid gebied word om goeie menseverhoudings met hulle op te bou. Die bure moet dit nou maar doen.

Die nuutste plan van die departement van waterwese is juis om water van besproeiingsboere weg te neem en aan die waterhonger myne verskaf. Een van die eerste gebiede wat hierdeur getref gaan word is die Limpopo provinsie met sy steenkoolryke neerslae in die dorre Waterberge. Dit is glo goedkoper vir die land om kos vanaf die waterryke Afrika lande noord van Suid-Afrika in te voer as om die water in Suid-Afrika op onbelangrike bedrywe soos landbou te mors. Kompleet asof enige Afrika land ooit deur die eeue heen daarin kon slaag om kos vir hul eie oorbevolkte lande te kan verskaf.

Die regering beskou steenkool as ‘n strategiese hulpbron en Eskom is op sy beurt ‘n strategiese waterverbruiker. Medupi en die reeds addisionele beplande steenkoolgedrewe kragstasie in dieselfde omgewing gaan al die water van die Krokodilrivier opslurp lank voordat dit in die Limpopo invloei.

Eskom het duidelik nie ‘n begrip van Suid-Afrika se waterkrisis nie. Hulle bestuurders bly mos in Gauteng en daar draai jy net ‘n kraan oop en siedaar! Daar is water!

(Met dank aan Elise Tempelhoff – Beeld 30 Oktober)