ATKV Toneelgroep wys hul slag
THABAZIMBI – Thabazimbi se jong mense het bewys dat hulle oor heelwat talent beskik en daarby ook baie goed kan toneel speel.
“Die Buite Egtelike Ouma”, uit die pen van Professor Nico Luwes was Vrydagaand as deel van die Thabazimbi ATKV-toekennings deur Rivo Toneel, onder leiding van Rita Volschenk, op die planke gebring. Die toneelstuk was veronderstel om by die KunsteGrot opgevoer te word maar vanweë die skielike opsegging van die huur deur Eskom, was die perseel nie meer beskikbaar nie en ander planne moes gemaak word.
Daar is toe besluit om dit deel te maak van die ATKV-toekenningsaand wat Vrydag in die Laerskoolsaal aangebied is.
Die toneelspel was skitterend en die humor treffend. Vir die meeste van die akteurs was dit die eerste keer op die verhoog voor ‘n gehoor. Dit het hulle geensins van hul spel laat afwyk nie en alles het vlot verloop, van die “buite egtelike baba se gehuil” aan die begin, tot die afskiet van die sjampanjeprop aan die einde.
Die nuwelinge was dr Jeff Tanne Johnson (tandarts) – Rudolph Basson,; dr Koos Knuppel Cruiwagen (algemene praktisyn) – Leon Olivier; Jeanette Spannenberg (mediese verteenwoordiger) – Tanya Vorster en Zahn (die blonde pasiënt) – Elanie Nel. Die rol van Ida Johnson, die tandarts se ma, is deur een van Rivo Toneel se ou staatmakers, Diana Odendaal, vertolk.
Rivo Toneel kan beslis gelukgewens word met ‘n puik opvoering. Die toneelstuk sal ook as deel van die nuwe Spar Super KunsteGrot opening vroeg volgende jaar weer opgevoer word. As jy nie Vrydag daar was nie, moet dit nie dan ook mis nie.
Die toneelgeselskap is op die foto voor: Leon Olivier (mediese dokter). Middel vlnr: Franco Loots (klankman en byklanke), Tanya Vorster (Jeanette), Rudolph Basson (Tandarts), Elanie Nel (Zahn, die pasiënt) en Diana Odendaal (tandarts se ma). Agter: Rita Volschenk