Editorial

Net vir die prestasie

Week 42 – 26 October 2012

Kommentaar deur die Kwêvoël Redakteur, Pieter Coetzee

Dit is betreurenswaardig dat baie van diegene wat die moeite gedoen het om vir die Thabazimbi ATKV-kompetisies, wat gemik is op die bevordering van die Afrikaanse taal, in te skryf, na die aankondiging van die pryswenners en die prysoorhandiging, nie eens die moeite gedoen het om vir die toneelopvoering deur RiVo Toneel te wag nie en direk nadat die pryse oorhandig is, die perseel verlaat het.

Hierdie was beslis nie ‘n spel- of gramatikatoets nie maar ‘n voorbeeld van hoe ‘n taal lewendig en vermaaklik kan wees. Gelukkig was daar ‘n groot groep mense wat nie net vir die belangstelling in die potensiële outeurs se skryfvermoë opgedaag het nie maar wat spesiaal moeite gedoen het om na afloop van die prysuitdeling spesiaal op te daag net vir die toneelopvoering.

Teater is die begin van alle vermaak en baie rolprent en TV akteurs het hulle draai eers op die verhoog gemaak en hunker steeds daarna. Op die verhoog is jy direk in kontak met die gehoor en die gehoor met jou. Het ons so afgestomp geraak dat ons eerder voor ‘n dooie TV wil sit sonder om jou waardering te wys vir ‘n goeie komedie of bedryf of enige ander vermaak wat in ‘n teater aangebied word? Mens kan amper die vraag stel: Was jy al ooit in jou lewe in ‘n teater om die atmosfeer daar binne te ervaar. Die opwagting, die kunstenaars soos hulle die verhoog betree, die dialoog wat nie onderbreek kan word nie, die aanwending van die byklanke en dekor en die ontlonting van die intrige.

Dit is totaal anders as wat mens byvoorbeeld by Skouspel of enige musiekkonsert ervaar waar beligting en klank die botoon voer. Op die verhoog, veral met ‘n plaaslike produksie soos die een wat RiVo Toneel opgevoer het, besef jy die selfvertroue wat elke toneelspeler moet hê om partymaal ‘n gek van hom/haarself te maak om die gehoor te vermaak. Lewe jouself saam met hulle in op die verhoog waar die spanning meer voelbaar om jou kan wees as met die ergste riller wat jou vasgenael voor die kassie laat bly sit.

Teater is ontspannend deurdat jy heeltyd deel van die storie wat uitgebeeld word is. Dit laat jou vry in ‘n ander wêreld waar jy eerlikwaar net kan terugsit en die storielyn volg.

Die mense wat deel is van die opvoering en afrigting spandeer baie van hul vrye tyd om vermaak vir die gemeenskap te verskaf. Bly maar gerus volgende keer sit en kyk wat vir jou in jou taal aangebied word deur mense wat vir die taal omgee – nie net in die sin daarvan om by vriende te spog oor die oulike gediggie waarvoor hulle ‘n prys gewen het nie. As jy geen waardering kan toon vir die ander fasette van die taal nie, kom daardie prys jou nie eintlik toe nie, want jy het niks tot die gemeenskap of die taal met jou skeppende werk toegevoeg nie. Nie eens jou tyd om dit op die verhoog te geniet nie.