Editorial

Hierdie staking is niks anders

Week 41 – 12 October 2012

 

Die stakings by Suid-Afrikaanse myne is miskien anders as die ander stakings waaraan ons nou al gewoond geraak het sedert die bewindsoorname deur die ANC. Dit verskil egter niks van die “pro-nuwe Suid-Afrika” stakings nie toe Cosatu as die ANC se aksie-vakbond die land deur stakings onregeerbaar wou maak om die apartheidsregering omver te werp.

Die ANC het sedert hulle bewindsoorname nog nie daarin geslaag om die beloftes van rykdom en ‘n beter lewe vir alle swart mense na te kom nie. Cosatu het ook nie sy beloofde stuk regeringskoek gekry nie en is steeds nie aan bewind soos hulle gehoop het voor die 1992 verkiesings nie.

Die vakbonde het almal gedroom van ‘n weelderige lewe, soos aan hulle deur hulle kommunistiese kamarade voorgehou is sodra die ANC oorneem. Die ANC het sy eie planne gehad hieroor en deur korrupsie hulle self die uitspattige lewe toegeëien waaroor die vakbonde gedroom het.

Met hierdie staking word die regering van die dag aangespreek omdat hulle nie die lot van die werkers kon verbeter nie. Op tipiese Afrika manier word die situasie omgedraai en in plaas daarvan dat die eise van die onrealistiese loonverhogings verder gevoer word, word die vakbonde se rassekaart gespeel en eis hulle nou dat daar ontslae geraak moet word van wit bestuurders op die myne omdat hulle glo rassiste is. Op hierdie manier glo hulle, sal hulle lot verbeter.

Die ANC sal hulle natuurlik hierin steun, net om daarvan verseker te wees dat hierdie selfde swart werkers wat nêrens kan kom onder ANC bewind nie, steeds in die volgende verkiesing vir hulle gaan stem.

Die ongeluk is net dat met al die bekwame bestuurders uit die pad, sal daar geen mynbedrywighede wees nie. ‘n Geval waar werkers eerder die leë dop as die halwe eier verkies.