Erdwurm praatjies by Oesfees

Deur  Ems Strydom

 

DWAALBOOM – Die jaarlikse Dwaalboom Oesfees is vanjaar op 14 en 15 September aangebied en het Vrydagoggend afgeskop met entrepreneurskap vir die Laerskool kinders.

Franco Loots het die leerlinge heerlik laat skaterlag met sy eenmansvertoning van Oom Kallie.

Piet Strydom het ‘n inligtingsessie rakende erdwurms aangebied. Buiten dat entrepreneurs ‘n ekstra geldjie kan verdien om die vermacast (erdwurmkompos) en vermitee (die vloeistof) te verkoop, veral vir potplant-liefhebbers en organiese boere, kan die leerlinge ook die erdwurms aan vissermanne verkoop.

Hierdie projek is ook groen, dus word al jou groente- en vrugteskille, eierdoppe, eierhouers en selfs papier vir die erdwurms vir voedsel, benut.

Marthie Scruton het ‘n plakboek (scrapbook) demonstrasie aangebied en elke leerling het ‘n boekie ontvang wat deur Obaro Dwaalboom geborg is.

Die leerlinge, selfs die seuns, het hierdie projek net so geniet.

Die boere het nadergeskuif vir die middag se boeredag waar hulle meer oor trekkers, implemente, veemedisyne en diatome te hore gekom het.

Saterdag was die sterkmankompetisie, verskeie ander sportsoorte en die dag is afgesluit met Nicholis Louw se vertoning wat deur PPC Cement geborg is.

Piet Strydom het ‘n inligtingsessie oor erdwurms aangebied. Op die foto is hy in gesprek met twee van die belangstellendes wat dit bygewoon het.