CommunityTop Stories

Stakende mynwerkers verskil oor salaris eise

NORTHAM – ‘n Geskil oor salaris-eise het tussen twee groepe stakende mynwerkers ontstaan by die Anglo Platinum se Swartklip Union Myn naby Northam.

Congress of South African Trade Unions (Cosatu) en die National Union of Mineworkers (NUM) het ‘n vergadering belê nadat Anglo Platinum op Vrydag 5 Oktober gedreig het om 8000 van sy werknemers af te dank by Swartklip Union, buiten die 12 000 werkers wat op Vrydag by sy Rustenburg myn afgedank is.

Een groep eis ‘n salaris van R16700, terwyl ‘n ander groep R12500 eis. Die staking is in sy tweede week en mynbedrywighede by Union is gestaak.

Duisende stakende mynwerkers het sedert Maandag 8 Oktober by die B-afdeling van die myn bymekaar gekom. Die een groep, wat deur gewapende polisievoertuie vergesel word, het na die smeltery gemarsjeer om ‘n memorandum van hul eise te oorhandig terwyl die ander groep by die rugby stadion, waar Cosatu en NUM van Noordwes, wat deur Cosatu se provinsiale sekretaris, Solly Phetwe gelei is, mynwerkers toegespreek het oor hul eise asook die afdankingsbriewe wat die bestuur aan hul werkers sou rig.

Die stakingsleier, Evans Ramokga, het Maandag gesê dat die mynwerkers gedetermineerd is om vir hul werk te baklei.

Skoolbusse wat tussen Thabazimbi, Swartklip en Amandelbult reis, is deur Setaria herlei vir veiligheid doeleindes nadat een skoolbus na bewering deur stakende mynwerkers toegetakel is.

Cosatu woordvoerder het gesê dat hulle wel hul lede se salariseise ondersteun, maar nie die moorde en onwettige aksies nie. Hulle ondersteun nie intimidasie gedurende stakings nie en ook nie om werkers te dwing om aan te sluit by ‘n unie wat hulle nie self gekies het nie.

Volgens Brigadier Thulani Ngubane van die SAPD is ‘n 22-jarige slagoffer se lyk naby ‘n rioolwerk naby die Jabula Hostel gevind. Hy het menigvuldige meswonde opgedoen en is gevind in ‘n plas bloed.

Na bewering het die vermoorde man en sy twee vriende straat af gery na Jabula Hostel myn waar hulle blykbaar deur ‘n groep stakende Anglo Platinum werkers geblokkeer is. Volgens gerugte het die misdadigers die slagoffer en sy twee vriende daarvan beskuldig dat hulle oppad werk toe is terwyl hulle moet staak. Volgens inligting wat deur die polisie verkry is, kon een van die slagoffers daarin slaag om te ontsnap, die ander een is ernstig beseer en die derde man is doodgemaak. Volgens Brigadier Ngubane het die misdadigers pangas, skerp voorwerp en ‘n knopkierie gebruik om die slagoffer te vermoor.

NUM se woordvoerder, Lesiba Seshoka, het gesê dat hul lede in gevaar verkeer en die totale sterftetal sedert die begin van die Marikana staking reeds meer as 50 is. Dit wil vir NUM voorkom of hul lede geteiken word en het die polisiediens beskuldig dat hulle sloer om arrestasies te maak.

NUM het voorts op Maandag 8 Oktober vir Anglo American Platinum beskuldig van rassisme. Hul woordvoerder, Seshoka, het beweer dat die maatskappy rassisme bevorder deur rassistiese sekuriteit en ander dienste van rassiste aan te skaf en dat die maatskappy geen voorneme het om swartmense te bemagtig nie. Hy het gesê dat die maatskappy verlede week massa afdankings aangepak het en was in die proses om dieselfde by Swartklip te doen toe NUM tussenbeide getree het om samesprekings met hul lede te hou net om deur ‘n spesiale tipe rassisme toegesnou te word.

Mpumi Sithole, ‘n woordvoerder van Amplats het geweier om daarop kommentaar te lewer.

Staakleier Gaddafi Mdoda, ‘n mynwerker by Anglo American Platinum, oftewel Amplats, het gesê dat hy een van die werkers was wat ‘n e-pos of sms boodskap ontvang het om hom van sy ontslag in te lig.

Luidens ‘n verklaring van Amplats het ongeveer 12 000 stakende werknemers gekies om nie verteenwoordiging te hê nie of om die dissiplinêre verhoor by te woon nie, en is dus afgedank in hul afwesigheid.

Anglo Platinum, wat hoofsaaklik deur Anglo American PLC besit word, het gesê dat hulle alreeds R700 miljoen in inkomste en 39 000 troygewig onse platinum produksie sedert die staking sowat drie weke gelede begin het, verloor. Die staking het ses myne toegemaak sowel as ‘n smelter by die platinum produseerder, wat normaalweg sowat 40% van die wêreld se produksie lewer.

Volgens Mark Rosenberg, Eurasia Group analiseerder, kan hierdie skuifbeurt van Anglo Platinum die risiko van meer geweldadige konfrontasie in die platinum produksiebelt vergroot.

Die ANC jeugliga het gereageer op die afdankings van die stakende mynwerkers en Amplats se reaksie as skandelik en teleurstellend beskryf. Volgens die ANC jeugliga is Amplats ‘n verteenwoordiging van wit monopoliese kapitaal wat uit voeling en ongevoelig is vir die treurige toestand waarin die armes van die land hul bevind.

Nagenoeg 80 000 mynwerkers, oftewel 16% van SA se totale mynwerkers arbeidsmag staak tans dwarsoor SA wat die ekonomie erg kniehalter.

Volgens ekonome beskadig die arbeidsonrus ook die land se reputasie as ‘n beleggingsbestemming. SA produseer 75% van die wêreld se platinum en is die nommer 4 chroom produseerder en die vyfde grootste goud produsent.

Die stakings, wat uit die platinum sektor ontstaan het, het sedertdien versprei na die goud, steenkool en ystererts myne asook die padvervoer-sektor. Twintigduisend vragmotorbestuurders eis ‘n 22% salarisverhoging. Hul staking dreig tans die verkryging van kruideniers- en brandstofvoorraad.

Die stakende vragmotorbestuurders het gesê dat hulle daaraan dink om hul veldtog te versterk deur spoor- en hawewerkers uit te nooi, indien werkgewers nie hul salariseise nakom nie. – Bronne: Fox Business en SABC.

Saamgestel deur Estie Taljaard, estie@kwevoel.co.za