Nuwe baadjie vir Bosveld-Oord
THABAZIMBI – Danksy ‘n reuse finansiële skenking deur Kumba Iron Ore, Thabazimbi Myn, kan Bosveld-Oord se woonstelle en hele terrein opgradeer word.
Die woonstelle, saal en buitegeboue word binne en buite uitgeverf. By die woonstelle word die baddens uitgebreek en storte ingebou, die ou stowe word vervang, die ou matte word opgetrek en vervang met teëls en die ou kaste en deure word vervang. Selfs die palissade word oorgeverf.
Die inwoners is versoek om vir sowat ‘n week by familie of vriende te vertoef sodat die nodige opgradering kan geskied sonder dat hulle in hul wonings ontwrig word.
Die Bejaarde Trust spreek ‘n groot dank uit teenoor Kumba. “Dankie dat u omgee vir ons bejaardes.” Het me Marie Steenekamp gesê.
Lede van die Bejaarde Trust, vlnr: Neels Kramer, Magda van Wyk (inwoner van Bosveld-Oord), Marie Steenekamp, ds Hennie van der Linde (Voorsitter van die Bejaarde Trust) en Jan Botha (kontrakteur).