Wedloop op Bela-Bela
BELA – BELA – Marthonatlete en stappers kan maar hulle skoene nader trek vir die jaarlikse 4-in-1 wedloop wat op Bela-Bela plaasvind.
Die Superspar Warmbad/Bela-Bela wedloop vind plaas op Saterdag, 10 November. Daar kan meegeding word in ’n 42,2 km marathon, of die 21,1 km halfmarathon, ’n 10 km of ’n 5 km pretloop.
Deelnemersgetalle het die afgelope paar jaar drasties toegeneem en in 2011 het ongeveer 1000 atlete vir die wedloop opgedaag.
Die begin- en eindpunt is hierdie jaar by Hoërskool Warmbad. Die terrein beskik oor voldoende parkering. Atlete kan dus uitsien na “nuwe” roetes in al die afstande.
Daar is groot kontantpryse op die spel in al die afstande en die groot trekpleister is die 10 km Spar Ladies. In hierdie wedloop ontvang die eerste vrou oor die eindstreep R1000 kontant en al die kategorie wenners R500. Daar is ook ’n spanprys van R1000 op die spel vir die vinnigste vrouespan (bestaande uit vier deelnemers). Die eerste man en vrou oor die 42,2 km eindstreep ontvang elk R1000 en die tweede plekke elk R700. In die 21,1 km ontvang die eerste man en vrou elk R500 en die tweede plekke elk R300.
Wegspringtyd is 5:30 vir die 42,2 km atlete, 6:00 vir die 21,1 km deelnemers en die 10 km atlete spring vyftien minute later om 6:15 weg. Deelnemers aan die pretstap spring 6:30 weg.
Die wedloop is ook ’n Comradeskwalifiseerder en onderworpe aan die reëls van ASA.
Voorafinskrywings kan gedoen word op die webwerf www.entrytime.com voor 5 November. Die eerste 120 inskrywings in die 42,2 en 21,1 km ontvang ’n pragtige hardloophoedjie vervaardig uit hoë kwaliteit materiaal.
Inskrywings kan ook op die dag van die wedloop vroegoggend op die terrein van Hoërskool Warmbad gedoen word.
Alle deelnemers ontvang medaljes en “goodiebags”.
Inskrywingsgeld beloop R100 vir die 42,2 km, R70 vir die 21,1 km, R40 vir die 10 km en die pretdarf is R20. Tydelike lisensies sal op die dag van die wedloop beskikbaar wees teen R30.
Vir meer inligting oor die wedloop kontak Tonie Grobler by tel. 072 712 6936 of Bea Emslie by 083 654 5819 of Erika by (014) 736 6008.
Vir akkommodasie skakel Villa Palmeira by tel. (014) 736 2558 of Bela-Bela toerismekantoor by tel. (014) 736-3694. Vir billike slaapplek in die skoolkoshuis skakel Hoërskool Warmbad by (014) 736-2166.