General

Vrou tot vrou: Oorwin Kanker

Op 10 September 2012 was die Internasionale Ginekologiese Gesondheidsdag en die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) moedig alle vroue aan om een van hulle KANSA Sorgsentra te besoek om meer inligting te bekom oor die opsporing en behandeling van vrouekankers, of besoek die KANSA webwerf.

Soos wat vroue verskillende rolle en vooruitgang dwarsdeur hulle lewens vertolk, stel hulle dikwels ander se behoeftes bo hulle eie en ly hulle eie gesondheid gewoonlik daaronder. KANSA moedig Suid-Afrikaanse vroue aan om saam te staan teen kanker deur verantwoordelikheid vir hulle persoonlike gesondheid te neem.

Sue Janse van Rensburg, KANSA se HUB, is ‘n vrou wat baie rolle vertolk het – dié van leier, kankervegter en kankeroorwinnaar vir 29 jaar. Sy glo dat die gesondheid van ons vroue die hoeksteen vir Suid-Afrika se toekoms is.

Sy sê: “Ons as vrouevegters kan hierdie stryd saam aansê en oorwin. Die keuse van ‘n gesonde, gebalanseerde lewenstyl en die vermyding van kankerveroorsakende middels (soos om te rook) kan ons risiko van kanker in die algemeen, en veral van vrouekankers in besonder, verminder.”

Kanker is een van die mees ernstige siektes wat vroue in die gesig staar, met een uit elke 29 vroue wat met borskanker en een uit 36 met servikale kanker gediagnoseer word – die mees algemene kanker onder swart vroue in Suid-Afrika. KANSA moedig vroue en vroulike kankeroorwinnaars aan om mekaar aan te moedig om ‘n gebalanseerde lewenstyl te handhaaf en vir gereelde ondersoeke te gaan, met die doel om hulle kanker risiko te verminder of die herhaling van kanker te voorkom.

KANSA se Voorste Wenke om Kankervry te Lewe

Eet Slim en Gesond – Wees kankerslim wanneer jy jou kos uitsoek, voorberei en geniet. Vermy geprosesseerde kosse en eet baie vars groente en vrugte.

Oefen en vermy stres – Lewe ‘n gebalanseerde en aktiewe lewenstyl. Oefening is noodsaaklik om immuniteit en krag op te bou. As jy fiks is sal jou daaglikse verantwoordelikhede makliker wees om na te kom.

Vermy alkohol en tabak – Beperk alkoholgebruik of vermy dit geheel en al en vermy die gebruik van tabakprodukte.

Gaan vir gereelde opsporingstoetse – Gaan vir gereelde mediese ondersoeke en toetse. Doen maandelikse borsondersoeke en gaan vir gereelde Papsmere minstens elke twee of drie jaar. Papsmere en borsondersoeke is belangrik vir vroegtydige opsporing van kanker. Hoe vroeër kanker opgespoor word, hoe groter is jou kans om dit te oorleef. Sien Vrouegesondheid Inligtingsgrafiek en pamflette: Borskanker | Servikale Kanker.

Vestig ‘n ondersteuningsstelsel – Soek die geselskap van diegene wie jou inspireer, hetsy familie of vriende en spandeer opbouende tyd saam met hulle.

Vind daagliks inspirasie – Voed jou gees en siel daagliks met opbouende gedagtes wat jou ‘n doel en sin aan jou lewe sal gee. Gebed en positiewe oordenkings kan jou geestelike welvaart bevorder.

Koester ‘n positiewe gesindheid en ‘n sin vir humor – Die hou van ‘n dankbaarheidsdagboek is ‘n goeie manier om jou aandag op die positiewe te fokus. Om te lag is die natuur se medisyne en dit versterk jou immuniteit. So doen dinge somtyds net vir die pret!

 

Voltooi behandeling – Voltooi die behandeling soos deur jou mediese- en sorg spanne voorgeskryf as jy siek is.

Gaan vir gereelde opvolgbesoeke  –  Handhaaf ‘n gebalanseerde lewenstyl  en gaan vir gereelde ondersoeke selfs na remissie om die terugkeer van kanker te voorkom.

Vir inspirerende boodskappe en oorlewingswenke van Suid-Afrikaanse vroue wat deur kanker geraak is, koop ‘n kopie van KANSA se teetafelboek ‘Sister Warriors’ of bekom KANSA se ‘Life is Beautiful’ waarin inligting oor kankervoorkoming verskyn. Beide boeke kan by KANSA se Hoofkantoor, of tolvry op 0800 22 66 22 of by e-pos info@cansa.org.za bestel word.

KANSA beskik oor agt Mobiele Gesondheidseenhede wat na afgeleë plattelandse gebiede dwarsdeur Suid-Afrika reis om mense te bereik wat andersins nie toegang tot vroeë opsporingstoetse sou hê nie.  Dit sluit in Papsmeertoetse vir servikale kanker, asook borsondersoeke en ander gesondheidstoetse soos vir cholesterol.

Volg KANSA op Twitter: @CANSA (http://www.twitter.com/@CANSA) en sluit aan by KANSA op Facebook: CANSA: Fighting cancer in South Africa (http://www.facebook.com/groups/25164487668/

Uitgereik deur Lucinda Viljoen, Gemeenskapsmobiliseerder KANSA Waterberg, e-pos: lviljoen@cansa.org.za en tel (014) 7174741 of 082 926 8077.