Hondsdolheid slaan toe in Thaba

Deur Ems Strydom

THABAZIMBI – ‘n Koei van Kobus en Annetjie Muller, van die plaas Rooidam is positief getoets vir hondsdolheid.

Kobus het Saterdag 22 September die beeste gedip, toe hy sien dat een koei siekerig lyk. Volgens Kobus het die koei gelyk soos een wat verstop is en galsiek onder lede het. Dit het ook gelyk of sy haar herkou wou opbring en die mond was kwylerig. Hulle het begin om die bees vir die verstopping te behandel, maar teen Maandag was sy nog nie beter nie.

Hulle het die veearts, dr Louis Greeff geskakel en hy het uitgekom. Louis het gereken dat die bees hondsdolheid het, al het sy nie die ander hondsdolheid simptome getoon nie. Die koei was baie kalm, sy wou net nie vreet of water drink nie, sy het egter nog steeds toegelaat dat haar kalf aan haar drink.

Volgens Kobus het die koei nooit gaan lê nie, sy het net geloop. Teen Donderdag het die bees op haar sy omgeval, en net daar gevrek. Louis het Donderdagmiddag die kop afgesny en Vrydagoggend is dit na Onderstepoort gestuur, Vrydagmiddag het die Mullers die uitslae ontvang, dat dit positief vir hondsdolheid is.

Louis se heel eerste diagnose was dus korrek al het die koei nie al die simptome getoon nie. Die karkas moes of verbrand, of baie diep begrawe word. Die virus tas die brein aan dit is dan ook waarom sommige boere na malkopsiekte of malbees verwys. Die enigste positiewe identifikasie van die siekte kan net met breinontleding gedoen word.

Annatjie en Kobus het tydens die eerste pogings met die medisyne ingee, met die kwyl en spoeg in aanraking gekom en Louis het aanbeveel dat hulle dadelik met voorkomende inspuitings moet begin. Die reeks inspuitings word as volg toegedien, dadelik of spoedig as moontlik, op dag drie weer, dag sewe, veertien en die laaste een op dag agt en twintig.

Die bees het die hondsdolheid vermoedelik van ‘n jakkals gekry, al was daar nie ‘n bytplek te bespeur aan haar nie. Jakkalse, meerkatte en honde is die grootste draers van hondsdolheid.

In Augustus was daar helder oordag, drie jakkalse op die Mullers se werf en het hulle die kalwers gejaag. ‘n Arbeider wat besig om ‘n voertuig te was, het op die jakkalse geskreeu en hulle seun Bennie, wat op die oomblik daar was, het een jakkals doodgeskiet, die jakkals het op hom afgestorm, gelukkig was die draad tussen hom en die jakkals, sodoende kon hy die doodskoot inkry.

Jakkalse het die laaste paar weke amok gemaak onder die Rooidammers se pluimvee. Verskeie ganse en hoenders van die inwoners en arbeiders is doodgebyt. Die Venter familie het ook een aand ‘n jakkals doodgeskiet, wat onder die ganse ingevaar het, daar was ook meer as een jakkals.

‘n Paar aande voor die voorval het Piet en Ems Strydom ook besoek gehad van ‘n jakkals.

Die het in die erf ingekom en die jong honde voor die deur probeer aanval. Toe Piet en hulle seun Pierré buite gaan ondersoek instel, het die jakkals ook op hulle afgestorm, gelukkig het hy voor hulle vasgesteek hulle bekyk en gevlug, want nie een het ‘n wapen gehad nie. Hulle het eers gedink dat dit ‘n rondloper hond is wat die jong honde so op hol het.

Indien iemand deur ‘n wilde dier of huisdier aangeval word, ontsmet die wond onmiddellik en as daar vermoed word dat dit ‘n hondsdoldier is gaan dadelik vir die inspuitings, sodoende kan u die virus vernietig.

Hondsdolheid is ‘n baie gevaarlike siekte. Wêreldwyd is daar slegs twee persone wat hondsdolheid oorleef het. Vanjaar is daar alreeds agt sterftes onder mense, maar in landelik gebiede is daar baie keer sterftes wat nie as hondsdolheid herken is nie.

Die eerste ses maande van die jaar was daar alreeds 152 gevalle van hondsdolheid aangeteken, teenoor die 117 van verlede jaar. Die meeste gevalle was in Kwa-Zulu-Natal.

Troeteldiere moet volgens wet, jaarliks teen hondsdolheid ingeënt word.

Die hondsdolheid virus is ook oordraagbaar deur die speeksel, wat in jou oë of mond kan beland of op ‘n stukkende plek.

Jy ontwikkel ‘n geweldige koors en hoofpyn, kry angsaanvalle, braak en ‘n dodelike vrees vir water. Die Mullers se bees wou ook nie water drink nie, sy het borrels in die water geblaas.

Uiteindelik tree verlamming, dan die dood in. Die virus kan twee tot tien weke duur voor die siekte tekens verskyn, dan is dit te laat vir behandeling.

Die Muller familie raai almal aan, wat met diere werk, selfs al spuit en dip jy net, om handskoene te dra, want hierdie wagtydperk is ‘n geweldige trauma, nie net vir hulle nie, maar ook vir die familie en vriende.