Community

Wees bewus van besighede se akkreditasie

THABAZIMBI – Besighede in Thabazimbi maak staat op hul goeie reputasie en vinnige diens om sodoende steeds hul deure in die kompeterende mark oop te hou.

‘n Inwoner van Thabazimbi, wat weens veiligheids redes anoniem wil bly, het egter ‘n nare ondervinding gehad met ‘n plaaslike besigheidsman wat kwotasies gee vir ‘n diens wat hy nie besonders goed kan deurvoer nie.

Nadat hy die werk afgehandel het, wat volgens verskeie inwoners as “swak” bestempel word, het hy steeds aangedring om sy R3600 betaling. ‘n Professionele persoon is ingeroep om die man se werk te beoordeel en die persoon het gesê dat dit die slordigste werk is wat hy nog gesien het.

Die inwoner het aan die besigheidsman verduidelik dat sy nie gelukkig is nie en gaan dus nie die volle bedrag betaal nie, aangesien die werk nie volgens standaard is nie, maar die besigheidsman wou geen rede verstaan nie en het steeds aangedring op sy volledige betaling.

Hy het die inwoner vanaf 10:00 tot 19:00 getreiter deur sy voertuig agter die inwoner s’n te parkeer. Na ure se onderhandeling het hy bes gegee en R1500 aanvaar.

Volgens die inwoner is daar verskeie ander individue wat al oor die man se werk gekla het, maar hy doen steeds besigheid in Thabazimbi.

Die gemeenskap word gemaan om eers deeglik huiswerk te doen wanneer hulle iemand van die straat af aanstel om herstelwerk of enige ander huishoudelike werk te doen. Kry genoeg verwysings en maak seker dat die persoon wel die diens kan lewer waarvoor hy kwoteer.