CommunityTop Stories

Derduisende rande se skade na inbraak

AMANDELBULT – ‘n Inbraak by Denton’s, die supermark op Amandelbult, op Sondagaand 16 September 2012, het der duisende rande se skade tot gevolg gehad.

Denton’s, wat aan mnr Anema Denton behoort, is sinoniem met Amandelbult en bedien die gemeenskap al etlike jare met vars brood en ander daaglikse noodsaaklikhede.

Volgens mnr Denton wil dit blyk dat die eerste inbraak op Donderdagaand 13 September, slegs ‘n verkenningsrooftog was. Die misdadigers het deur die dak toegang tot die gebou verkry en slegs ‘n paar items is uit die winkel geroof. Hulle het ook al die drade in die dak geknip.

Die rowers het egter teruggekeer op Sondagaand en “huis skoongemaak”. Volgens mnr Denton het dit geblyk of die rowers geweet het dat hulle genoeg tyd het en alles was deeglik beplan. Die kluis wat deur die petroljoggies gebruik word om petrolgelde in te gooi, is deur die rowers met ‘n tipe mynwese gel plofstof oopgeblaas. Die kluis in die kantoor, wat etlike duisende rande in kontant bevat het, is met ‘n hoekslyper oopgeforseer. Dit blyk egter dat dit die rowers ‘n lang tyd geneem het om die kluis oop te kry aangesien ‘n hele paar gebruikte slypskyfies op die grond gestrooi was.

Die rowers het ook probeer om die OTM binne-in die winkel  oop te blaas met dieselfde gel plofstof, maar kon nie daarin slaag nie.

Hulle het ‘n verlengingskoord aangelê om die kluis oop te slyp en het self vir hulle koffie gemaak, het mnr Denton aan Kwêvoël gesê.

Volgens ‘n opname kon vasgestel word dat die rowers 47 dose sigarette asook vleis uit die winkel gebuit het.

Deur Estie Taljaard, e-pos: estie@kwevoel.co.za

Die oopgeblaasde kluis in die kantoor van Denton’s supermark in Amandelbult.