Sussies stormloop modelwêreld
THABAZIMBI – Die twee Armstrong-sussies, Vicky-Lee en Carré-Lee, is welbekend in die plaaslike model-kringe en palm gereeld wat ‘n titel is in wanneer dit by modelkompetisies kom.
Albei het op 8 September deelgeneem aan SA Face of the Future kompetisie wat deur Model Cup, the Ultimate Beauty Sport aangebied was. Die drie afdelings waarin deelgeneem is, was “Evening wear”, “Fotogenies” en “Ramp”. Die vier beoordelaars was uiters streng en geen fout is oorgesien nie. Carré-Lee het in die ouderdomsgroep 12-14 jaar deelgeneem en onder die Top 5 in die “Pageant” afdeling sowel as die “Fotogenies”- afdeling geëindig, haar punte het haar ‘n stewige algehele tweedeplek, dus ‘n silwer medalje, laat verower.
Vicky-Lee het op haar beurt weer aan die 10-11 jaar afdeling meegeding. Sy behaal ‘n eersteplek in die “Ramp” afdeling en ‘n derdeplek in die “Fotogenies”-afdeling, haar punte is die hoogste vir die dag en sy verdien ‘n eersteplek (goud) in haar ouderdomsgroep.
Carré-Lee is een van die modelle wat gedurende die kompetisie gekies is om vir ‘n week na Kaapstad te gaan waar hulle drie top SA fotograwe sal ontmoet en fotosessies sal aflê. Daarna het hulle die geleentheid om agente te ontmoet vir moontlike kontrakte.
Carré-Lee het die afgelope naweek ‘n slypskool genaamd “Top Model Workshop” wat deur die Global Casting agent, Erin Roche, aangebied was, bygewoon. Die slypskool is slegs vir modelle van 13 jaar af en ouer. Die modelle is die fynere kunsies van grimering, haarversorging, velsorg en die regte eetgewoontes geleer. Voorts het ‘n top model ‘n demonstrasie gegee oor loopplank-modellering indien een van hulle gekies sou word om ‘n top ontwerper se klere op die loopplank te vertoon, byna soos Fashion TV.
Carré-Lee is baie opgewonde oor die week in Kaapstad. Volgens me Roche kry meeste modelle net een keer so ‘n kans in hul lewe, veral in die kompeterende modelbedryf. Daar word vereis dat modelle slegs hul beste gee aangesien een fout hul loopbaan kan kelder.
Louise Armstrong, die trotse ma van Carré-Lee en Vicky-Lee het aan Kwêvoël gesê dat hulle as ouers hul Skepper al die eer gee vir die voorreg wat hulle het om hul kinders te ondersteun in dit wat hulle doen. “Ons is baie bevoorreg.” Het sy gesê.
Vicky-Lee het ‘n goue medalje verower tydens die SA Face of the Future modelkompetisie.
Carré-Lee is gekies om vir ‘n week na Kaapstad te gaan vir fotosessies met top SA fotograwe.