Community

April 2013 einde van waterprobleem?

THABAZIMBI – ‘n Voorlegging vir die Opgradering van Thabazimbi se pompstasie en pyplyne is op Donderdag 13 September deur die kontrakteur AfriCan Innovative Solutions and Projects by Thabazimbi Munisipaliteit aangebied.

Volgens mnr Christo Harmse, Ingenieursbestuurder by AfriCan Innovative Solutions and Projects, sal die eerste fase einde September 2012 voltooi wees waarna die tweede fase in werking sal tree.

Die gemeenskap van Thabazimbi moet bewus wees dat die 5 weke plan waarvan daar voorheen berig is, slegs die beplanningsfase was waarin al die probleme geïdentifiseer is.

Die eerste fase behels die opgradering van die pompstasie en pompe, die skoonmaak van die pompstasie en boorgate en die identifisering van pyplekke.

Fase 2 word beoog om einde Maart 2013 voltooi te wees. Dit sluit in ‘n nuwe transformator, nuwe motors en nuwe pompe. Saam met dit word drie skeepshouers met toerusting opgestel wat die water sal behandel. Die staalpyp sal ook vervang word met ‘n plastiekpyp met ‘n leeftyd van 50 jaar.

Tydens die tweede fase sal daar wel wateronderbrekings wees, maar dit sal hoofsaaklik snags geskied. Genoegsame kennisgewing sal vooraf gegee word vir die groot wateronderbrekings sodat die inwoners hulself daarop kan voorberei.

Die vyf water reservoirs waaroor Thabazimbi tans beskik, maar wat weens instandhouding- en struktuur probleme nie in werking is nie, sal ook met hoëdrukspuite skoongemaak word en geskrop word met chemikalieë, sodat dit weer gebruik kan word gedurende fase twee.

Die voordeel wat inwoners reeds einde September sal beleef, na die voltooiing van fase 1, is dat daar meer water vir ‘n langer tydperk sal wees.

Die inwoners word bedank vir hul geduld tot dusver.