General

Sewe rekords verbeter by wildveiling

BELA–BELA -Stud Game Breeders en Vleissentraal Bosveld het op Saterdag, 1 September, by Mbizi Lodge buite Bela-Bela die tweede hoogste omset ooit op ’n veiling behaal. Dié reuse-omset het R122 280 000 beloop.

Die hoogtepunt van die veiling was ongetwyfeld die R26 000 000 wat behaal is vir die buffelbul “Horison”, geteel deur Lumarie van mnr. Jacques en me. Carolien Malan van Bela-Bela.

Horison se horinglengte op net vier jaar maak van hom beslis ’n buffel vir die fynproewer-teler. Mnr Piet du Toit van Hunky Dory Investments was die koper van dié pragdier.

Vroulike buffels het steeds baie goeie pryse behaal. Vier verse is vir R1,3 miljoen stuk verkoop. Die duurste dragtige buffelkoei van Nyumbu Game het R5,2 miljoen behaal.

Kopers van oor die hele land was onder die meer as 1 400 mense wat die veiling bygewoon het. Sewe rekords is verbeter en drie geëwenaar.

’n Duidelike opwaartse tendens in bastergemsbokpryse is vanjaar ervaar. Bastergemsbokkoeie en -kalwers van Shelanti Game Ranch het R540 000 stuk behaal en ’n dragtige bastergemsbok-teelgroep van Nyumbu Game het R400 000 stuk behaal. Albei hierdie pryse is nuwe rekords.

Livingstone elande se prys het ook die afgelope 12 maande ’n opwaartse kurwe getoon. Twee dragtige koeie van Nyumbu Game het R320 000 stuk behaal, ook ’n nuwe rekord. ’n Pragtige Livingstone elandbul van Tembani Wildlife is vir R450 000 verkoop.

Die vraag na swartwitpense is volgens die kenners steeds baie hoog. ’n Kruis Zambiese swartwitpensbul van Dinaka Game Reserve het R1,5 miljoen behaal.

Vier kruis dragtige Zambiese Swartwitpensverse van Kwanare is vir R460 000 stuk verkoop en albei hierdie pryse is nuwe rekords.

Ondanks die feit dat renosters die afgelope tyd gereeld vir die verkeerde redes in die nuus was, het renosters steeds baie goeie pryse behaal. Die R420 000 vir dragtige witrenosterkoeie is ook ’n nuwe rekord. Die verkopers was Nyumbu Game and Dinaka Game Reserve.

Die veiling is deur Vleissentraal Bosveld aangebied en die afslaer was mnr. Brendon Leer. LiN Media/Die Pos

Die buffelbul, Horison, is deur mnr Piet du Toit teen ‘n stewige bedrag van R26 miljoen aangekoop.