Munisipale woonbuurt dalk in sinkgat
Deur Tobie Lombard
ROOIBERG: ‘n Span senior munisipale raadslede en beamptes het vroeër die week verskeie belangrike munisipale projekte in Rooiberg, Northam en Thabazimbi besoek. Die hoofdoel vir die besoeke was om die lede van die afvaardiging die geleentheid te gee om hulleself te vergewis oor die vordering wat gemaak is met die onderskeie projekte.
Die uitgewerkte Tinmyn op Rooiberg, wat deur die Miranda Mines (Edms. Bpk.) groep besit en bestuur word, het groot belangstelling uitgelok. Raadslid Neels du Preez, inwoner van Rooiberg en leier van die Vryheidsfront Plus in Limpopo en VF+ verteenwoordiger op die raad, het ‘n insiggewende uiteensetting aan die afvaardiging voorgehou oor die probleme wat ondervind word rondom die sluiting van die Maranda Rooiberg Tinmyn, wat hoewel mynbedrywighede gestaak is, steeds nie aan wetlike vereistes voldoen om te kwalifiseer vir ? finale sluitingsertifikaat nie.
? Span mynwerkers het weer op die dorp aangekom en na wat verneem word, word daar beoog om die myn te heropen. Dit is egter heelwat makliker gesê as gedaan volgens rdl. Du Preez, want daar is talle struikelblokke gekoppel aan so ? pretensieuse projek. Intussen is daar finansiële verpligtinge wat nie net geïgnoreer durf word nie.
Die gebrek aan die broodnodige sluitingsertifikaat, het volgens bespiegeling waarskynlik die myngroep genoop om ‘n lap grond, 165 hektaar groot, op ‘n skinkbord aan die Thabazimbi Munisipaliteit aan te bied. Die vraag, volgens du Preez, is wat die munisipaliteit met die grond kan doen. Daar kan nie op die grond gebou word nie want dit is ondermynde gebied. Dit is glo nie eers goeie weiding nie.
Trouens, volgens du Preez, is ‘n groot gedeelte van Rooiberg dorp ondermyn. Die RDP gebied, is juis van die ou staanplek verwyder a.g.v. die gevaar van sinkgate. Trouens, daar het reeds een sinkgat voorgekom waar die ou woongebied was. Du Preez het aan Kwêvoël gesê die oorgrote gedeelte van die gebied waarop RDP ontwikkeling gevestig is, is ook ondermyn en word as erg onstabiel geag.
“Dit is nie vergesog of onmoontlik dat die hele RDP gebied in ? reuse sinkgat kan verdwyn nie” het du Preez gewaarsku. Die aanbod van die 165 ha grond is dus nie ‘n finansiële opsie nie. Dit is nie so maklik om die skenking te aanvaar nie want daar is verskeie wetlike vereistes waaraan Marana Mines glo nog die voldoen het nie.
Sou die raad die aanbod aanvaar, verskuif die finansiële las en wetlike verpligtinge vanaf Maranda Mines na Thabazimbi Munisipaliteit, ‘n opsie wat nie aanvaarbaar vir die belastingbetalers kan wees nie.
Dit is dus volgens du Preez hoogs onwaarskynlik dat Thabazimbi Munisipaliteit die aanbod sal aanvaar want die finansiële implikasies is onbekend.
Die groep afgevaardigdes wat munisipale projekte in Rooiberg, Northam en Thabazimbi besoek het. Van links is rdl. D.A. Moatse (ANC), mnr. Piet van Rensburg (bestuurder dorpsbeplanning Thabazimbi), rdl. Neels du Preez (VF+), me. M.S. Mabitsela ( bestuurder Infrastruktuur, Beplanning en Ekonomiese Ontwikkeling), mnr. Danie Stoltz (Bestuurder Tegniese Dienste en Instandhouding), rdl. T. Mkwanzi (ANC), Skakelhoof Joshua en Cornelius Booysen (Bestuurder Tegniese Dienste)