Community

Groot fondsinsamelingspoging vir TAR

SWARTKLIP – Vier leerlinge van Hoërskool Wagpos in Brits het ‘n fondsinsamelingsprojek ten bate van Thabazimbi Animal Rescue gehou.

Die fondsinsamelingsdag is op Saterdag 25 Augustus by die Dickjolkie Hondesalon in Swartklip gehou.

Die 16-jarige meisies, Maryna Stip, Colette Marx, Schanika Guba en Leandrie van der Walt moes ‘n lewensoriënteringstaak vir hul skool aanpak. Die taak het behels dat hulle fisies as vrywilligers moes betrokke raak of ‘n fondsinsamlingsprojek vir die instansie van hul keuse moes hou.

Heerlike sosaties, worsbroodjies en pannekoek is te koop aangebied. ‘n Foto- en inkleurkompetisie sowel as speletjies en gesigverf vir die kinders is by Laerskool Platina gehou.

Die spannetjie het hope honde- en katkos asook kontant ingesamel. Thabazimbi Animal Rescue (TAR) bedank hulle vir hierdie grootse poging wat hulle geloods het.

TAR het gratis hondsdolheid inentings tydens die dag gedoen en is goed deur die gemeenskap van Swartklip ondersteun.

TAR bedank ook vir Laerskool Dwaalboom wat vir hulle honde- en katkos sowel as kontant geskenk het.

Die meisies van Hoërskool Wagpos in Brits wat die TAR fondsinsamelingsdag te Swartklip gehou het saam met Christine Stip van Dickjolkie Hondesalon.