Sport

Jong dame stof manne uit op hengelkompetisie

LEPHALALE – Die Hervormde gemeente Ebenhaeser het op Saterdag 1 September hul jaarlikse hengelkompetisie aangebied by die Mokolo dam.

Ongeveer tweehonderd hengelaars het reeds van die Vrydag af rondom die dam begin stelling inneem in afwagting op die kompetisie. Van die hengelaars het selfs van so vêr as Natal en die Vrystaat gekom. Sommer vroeg-vroeg het die eerste swartbaars al aan die hoek beland, maar die bloukurpers wou glad nie die dag byt nie. Reg deur die dag het die deelnemers hul visse gebring om ingeweeg te word. Daar kan so terloops genoem word dat byna al die visse weer lewendig ter water gelaat is na hul geweeg is.

Teen 16:00 die middag het die kompetisie ten einde geloop en tydens die prysuitdeling het die manne tot hul verbasing agtergekom dat ‘n jong dame hul ore aangesit het deur die swaarste swartbaars te vang. Lorraine Naude is sommer ‘n bobaas hengelaar en sy het die eerste prys van R10 000 kontant gewen vir haar prestasie.

Die tweede en derde pryse was ook nie te versmaai nie en dan was daar nog ‘n horde troospryse wat gewen is in ‘n gelukstrekking.

Die reëlingskomitee van die hengelkompetisie wil weereens die borge bedank vir die pryse wat geborg was asook ander bydraes wat gemaak is om van die dag ‘n sukses te maak. Sonder die borge sou dit nie moontlik gewees het nie.

Almal wat daar was het die Hervormde gemeente Ebenhaeser se jaarlikse hengelkompetisie baie geniet en die gemeente sien uit daarna om volgende jaar weer die kompetisie aan te bied.

Ds Leslie Kern oorhandig die eersteprys aan Lorraine Naude.