Helen Park mag nie water kry nie
Ek wil eerstens graag vir mnr Cornelius Booysen, tegniese bestuurder bedank vir dit wat hy probeer doen het, om water aan die informele nedersetting Helen Park, in Northam, te voorsien.
Hy het my egter Vrydag 31 Augustus meegedeel dat die munisipale bestuurder van Thabazimbi, sy werknemers direk opdrag gegee het, om geen water aan Helen Park te verskaf nie.
Ek kan nie in my wildste drome dink dat iemand so wreed kan wees, om daardie mense, wat op munisipale grond bly, van enige toegang tot water te ontsê nie.
Volgens die Handves van Regte, Hoofstuk twee van die RSA konstitusie, Wet 106 van 1969, het alle inwoners die reg op skoon water.
Kom ons wees eerlik met mekaar, dit gaan nie hier om water vir die mense te lewer nie, dit gaan hier om vir my te wys wie het die mag. Hulle weet hoe baie tyd ek spandeer om iets vir Helen Park se mense te doen. Hulle sal eerder politieke speletjies speel en mense laat swaarkry sonder water, as om toe te gee, dat iemand wat nie aan die regerende party behoort, ook graag die mense wil help nie.
Hiermee wil ek dus ‘n beroep op die inwoners doen, om ons munisipale bestuurder en agbare burgemeester te besoek, want hulle roem daarop dat hulle ‘n oopdeur beleid het vir die gemeenskap. Terwyl die gemeenskap hulle dan besoek, kan julle sommer vra, dat hulle as gemeenskap die raadsvergaderings wil bywoon, wat julle reg is. Ongelukkig is daar vir die laaste drie maande geen raadsvergadering gehou nie, wat volgens raadsbesluit elke maand gehou moet word.
Tydens hierdie vergaderings kan julle sommer ook vra: “Hoekom oortree die munisipaliteit die gelyke indiensnemingswet, aangesien die Ouditeur Generaal verlede jaar alreeds sy kommer uitgespreek het, dat die minderheidsgroepe onderverteenwoordig is.
Raadslid Piet Strydom