Community

“Spitskop Special Needs School”

THABAZIMBI – Na jare lange se spook en spartel wil dit nou lyk asof die droom om vir Thabazimbi se kinders met spesiale behoeftes, hul eie skool te ontwikkel, waar gaan word.

Een van die grootste struikelblokke vandat hierdie projek aangepak is, was om ‘n geskikte perseel te bekom. ‘n Anonieme skenker het die fondse beskikbaar gestel en ‘n kleinhoewe, sowat vier kilometer buite Thaba, op die Spitskop pad is geïdentifiseer. Die plek is ideaal, dit het ‘n ruim woonhuis met ‘n groot boomryke grasperk. ‘n Groentetonnel is reeds opgerig en daar sal van die pluimvee agterbly om die kinders te verwelkom en tuis te laat voel. “n Rekenaarsentrum en terapifasiliteite sal aangebou word en die lekker groot  werkswinkel sal in ‘n kreatiwiteit-/kunskamer omskep word.

Omdat intensiewe arbeids- en spraakterapie ‘n sleutel rol in hierdie kinders se ontwikkeling speel,  word daar beplan om voltydse terapeute aan te stel. Spesiale behoefte kinders is dikwels in ‘n wêreld van hul eie vasgevang, maar met die regte professionele hulp  kan hul potensiaal onsluit en  uitgebou word.

Die skool sal op ‘n unieke manier funksioneer. Daar sal nie meer as agt kinders in ‘n klas wees nie, elke kind sal ge-evalueer word en op sy eie ontwikkellingsvlak ‘n opvoedkundige program volg. Om aan die kinders se sosiale behoeftes te voorsien sal daar ook groepaktiwiteite en genoeg tyd vir ontspan wees.

Om verdere befondsing moontlik te maak moet ‘n intensiewe behoefte bepalings veldtog van stapel gestuur word. Die nodige toestemming is reeds van die Departement van Onderwys ontvang en die plaaslike skole is ook gekontak. Hierdeur sal ‘n aantal kinders geïdentifiseer word wat verkeerdelik in hoofstroomonderwys beland het. Dit is ongelukkig wel so dat daar kinders is wat nooit tot op skoolvlak vorder nie en dit is die kinders wat opgespoor moet word.

Ongelukkig kan nie alle kinders se probleme met die intrapslag opgelos word nie. Daar gaan dus aanvanklik eers gefokus word op Outisme, Down Sindroom, ergere Epilepsie en breinskade. Om die mees effektiefste benadering tot elke kind se unieke probleme te hê is ‘n professionele evaluering ‘n vereiste. Ouers wat reeds hul kinders laat evalueer het, se diagnoses sal van baie hulp wees. Kinders wat nog nie gediagnoseer is nie kan met behulp van Tuks en Medunsa Universiteite ge-evalueer word.

Indien daar rede tot kommer oor ‘n kind se ontwikkeling bestaan sal die kind se dagmoeder/onderwyser waardevolle insette in die verband kan lewer. Hierdie mense sien u kind in groepsverband en sal weet as daar iets fout is. Omdat ‘n kind wat ‘n potensiële probleem het ‘n sensitiewe saak is, het nie alle dagmoeders/onderwysers die vrymoedigheid om vanself die probleem te opper nie. Bespreek ook enige bekommernisse met jou huisdokter.

“Spitskop Special Needs School” is nie net meer ‘n droom nie maar byna ‘n tasbare realiteit. Die skool is ook dringend op soek na mense wat by die skool betrokke wil raak hetsy professioneel of op ander velde. Dit geld ook vir mense wat reeds kontak gemaak het na die vorige artikel in die Kwêvoël aangesien ‘n geruime tyd intussen verloop het en almal se kontakbesonderhede net weereens bevestig moet word.

Kontak asseblief vir Salomien Snyman by 072 4633 657 of per e-pos spitskopsns@gmail.com met enige inligting of navrae.