Community

Rooiberg se Twee Engele in Wit

Deur Tobie Lombard

 

ROOIBERG – Rooiberg, ‘n baie klein myn gemeenskap sowat halfpad tussen Thabazimbi en Warmbad, se myn, wat die lewensbloed van die gemeenskap was, open blykbaar binnekort weer die myn. Daar is egter een bestaande projek wat kop en skouers uitstaan bo enige ander projek wat huidiglik in die pyplyn is.

Dit is ‘n opwindende projek waarby die gemeenskap en distrik baie baat gaan vind. Die nuwe multi-miljoen rand Primêre Gesondheidsorg Kliniek op die dorp nader nou vinnig voltooiing. Die kliniek is die kulminasie van die visie en harde werk van die Kliniekkomitee onder leiding van voorsitter mnr. Philip Nel.

Die saadjie vir díe moderne kompleks is in 2005 by Nel geplant toe hy en sy gesin na Rooiberg verhuis het om mediese diens aan die gemeenskap te kom bied. Hy was toe al ‘n ou hand in die Noodhulpliga. Tydens die Bosoorlog was die energieke man nou betrokke by die Kommando’s as mediese ordonnans en noodhulp instrukteur. Hy het ook grensdiens gedoen as mediese ordonnans.

In 1996 het hy ‘n hartaanval gehad en toenemend het die hart hom al hoe meer las gegee. Ten spyte daarvan het hy sy lewenswyse en werksprogram aangepas maar sy werksetiek het dieselfde gebly. Deur die genade van die Here, vanwaar hy sy krag kry, is hy ‘n gemeenskapsmens wat glo in betrokkenheid en as hy ‘n projek aangepak het was daar net een pad. Vorentoe!

Van ‘n veel rustiger lewe was daar nie juis sprake nie. Die eerste kliniek, ‘n privaat kliniek by Avondrus was die eerste projek, daarna was dit die Staatskliniek. Die Staatskliniek was aanvanklik by die huidige munisipale kantore en dít in die mans toilette van alle plekke.

Hierdie onaanvaarbare situasie het spoedig gelei tot die soeke na ‘n meer geskikte perseel. Die Nelle se soeke na ‘n geskikte perseel en gebou het geëindig toe die Munisipaliteit ‘n leë gebou in die RDP woongebied beskikbaar gestel het vir die kliniek. Die gebou was geoormerk vir ‘n kleuterskool, maar die nood vir ‘n kliniek was groter. Die gebou was ‘n leë dop en met eie toerusting, tyd en toewyding is die gebou meer bruikbaar gemaak. Later het die Departement van Werke die ruimte verdeel in spreekkamers, kantore en stoorplekke.

Die Nelle se droom van ‘n moderne, behoorlik ingerigte kliniek het egter nie vervaag nie. Nadat die kliniek (die huidige kliniek) operasioneel was het hulle begin agiteer vir ‘n volwaardige kliniek. Brief na brief is weggestuur, jaar na jaar was die uitslag negatief. Tot op een goeie dag wat Philip by die destydse munisipale bestuurder gehoor het dat daar goedkeuring verleen is om drie nuwe klinieke in die streek te bou.

Daar en dan het hy ‘n vaste besluit geneem. Een van daardie drie klinieke moet op Rooiberg staanplek kry. Ná talle onderhandelinge, een vergadering na die ander en hare op die tande om deur die rompslomp te sny, is die kliniek op Rooiberg goedgekeur. Daar word ook ‘n verpleegsterstehuis saam met die nuwe kliniek opgerig, waar sommige verpleegpersoneel sal inwoon. Deurentyd was hy voorsitter van die kliniekkomitee.

Die nuwe kliniek gaan voort met die bied van die volle spektrum van Primêre gesondheidsorg aan, onder andere minder ernstige ongesteldhede en beserings, chroniese siektes, Tuberkulose ens. diagnosering en behandeling, volwasse en kinder immuniserings word gedoen. Alle voorgeboorte en nageboortesorg word plaaslik hanteer. In soverre die personeeltekort dit toelaat, word bevallings hier waargeneem. Gekompliseerde gevalle, word na spesialiste by Warmbad Provinsiale Hospitaal verwys. Lewensbedreigende noodgevalle word gestabiliseer en per ambulans afgevoer.

Deur die toewyding en harde werk van Suster Venter en haar kollegas is Rooiberg kliniek al in 2011ge-akkrediteer as ‘n MIV/VIGS berading en Anti Retrovirale Terapie (ART) behandeling sentrum. Dit behels berading, toetsing vir MIV met onmiddellike bekendmaking van die uitslag aan die pasiënt en dan verdere berading. Die Verpleegkundiges skryf self, onder leiding van Dr. Langa by Warmbad Hospitaal ART middels aan pasiënte voor.

Nog ‘n essensiële diens word deur  ‘n span swart vroue as Gemeenskapsgebaseerde Sorgingwerkers voorsien. Hierdie vrywilligers vul die dienste van die kliniek aan deur in die gemeenskap besoeke te doen, identifisering van siekes en maatskaplike nood. Hulle bring ook verswaktes met rolstoele na die kliniek Dit vul die kliniek se bestaande dienste aan en het al talle lewens gered.

Philip Nel kan tevrede terugkyk na die afgelope sewe jaar. Sedert hy in Rooiberg aangeland het, het hy met ywer, vasberadenheid, diplomasie en daad gewoel. Rooiberg en distrik moet vir hierdie man, wat ‘n hart pasaangeër het, dankie sê. Hy en sy gesin se bydrae tot die mediese dienste in die dorp kan nie gering geskat word nie.

Die kliniek het tans twee blanke Verpleegkundiges wat die afgelope maande die dag tot dag bedryf van die kliniek behartig met behulp van 2 verpleegassistente, skoonmakers en ‘n dataklerk . Hulle as susters moet  alle mediese en administratiewe take doen en hulle toewyding is reeds legendaries. Suster C.J.S. Venter (Christine), is ‘n hoogsopgeleide verpleegkundige. Sy is die Operasionele Bestuurder van Rooiberg Kliniek.

Haar kwalifikasies is as volg: Geregistreerde Professionele Verpleegkundige, Gemeenskap Gesondheidsverpleegkundige, Psigiatriese Verpleegkundige en Vroedvrou. Sy het ook ‘n Na-basiese Diploma in Verpleegadministrasie en ‘n Gevorderde Diploma in Primêre Gesondheidsorg. Sy spesialiseer in die sorg van MIV/VIGS en TB pasiënte.

Sy het ook verskeie aanvullende kwalifikasies waarvan sy heel party verwerf het terwyl sy verskeie jare in die Midde-Ooste gepraktiseer het.

Haar regterhand is Suster Corney Nel wie se kwalifikasies net so indrukwekkend is: Corney is ‘n Geregistreerde Professionele Verpleegkundige, Gemeenskap Gesondheidsverpleegkundige, Psigiatriese Verpleegkundige en Vroedvrou. Sy het ook ‘n Na-basiese Diploma in Gevorderde Verloskunde en ‘n Na-basiese Diploma in Verpleegonderwys. Sy het ‘n  Sertifikaat in Primêre Gesondheidsorg, ‘n Sertifikaat in Beroepsgesondheidsverpleegkunde en is ‘n Noodhulpinstrukteur, en het ook ‘n Sertifikaat in Reseptering van medikasie.

Suster Corney Nel is ook ‘n uiters bedrewe wondsorg- en Diabetiese sorg spesialis. Corney het ook in Engeland en die Midde-Ooste gewerk en daar addisionele kwalifikasies verwerf.

‘n Splinternuwe era en ‘n nuwe tydvak word einde Oktober ingelei wanneer die beoogde oorhandiging van Philip Nel se droom, ‘n spog mediese kliniek aan die inwoners van Rooiberg en distrik oorhandig word. Philip Nel kan gerus wees dat sy droom veilig in die hande van twee hoogs gemotiveerde Verpleegkundiges is wat die broodnodige leiding sal gee.

Die twee verpleegsusters werk hard want die hande is min. Boonop moet hulle om die beurt 24/7 bystanddiens verrig. Hierdie twee professionele vroue doen hulle werk met oorgawe en toewyding. Geen wonder hulle staan in Rooiberg bekend as “ Rooiberg se Engele in Wit” Hulle is die titel waardig…

Suster C.J.S. Venter (Christine), ‘n hoogs opgeleide Verpleegkundige, sy is die Operasionele Bestuurder van Rooiberg Kliniek.