Vergiftiging van honde
THABAZIMBI – Temik of Aldicarb is ‘n landbougif wat bv vir wurms op aartappels gebruik word. Ongelukkig word dit deur misdadigers misbruik om honde te vergiftig. Two Step is die ander naam vir Temik vergiftiging aangesien die dier (of selfs mens) letterlik net “twee stappies” kan neem voordat hulle sterf.
Temik word gewoonlik in worsies of polonie weggesteek en aan honde gevoer. Die gif is klein swart granules wat lyk soos biskruit (gunpowder). Die kliniese simptome van carbamaat (Temik) en organofosfaat vergiftiging kan nie van mekaar onderskei word nie. Die simptome sluit in klein pupille (miosis), oor produksie van spoeg (hipersalivasie) bronchospasma (dier sukkel om asem te haal), die oë traan (lakrimasie). Die hond urineer, bring op (vomisie) en het ook diaree. Spierspasma, spier sametrekkings, rukkings spierstyfheid, swakheid en verlamming kom ook voor. Indien die dier nie betyds behandeling deur ‘n veearts kry nie kan hy binne minute doodgaan . Hoe vinnig hang af van die hoeveelheid
gif hy ingekry het. Die behandeling kan die volgende insluit: As die dier nie stuiptrekkings kry of verlam is nie word vomisie met apomorfien veroorsaak sodat enige gif in hond se maag opgebring kan word. Dier moet op ‘n binneaarse drip kom en die teenmiddel (atropien) moet onmiddellik binneaars toegedien word. Konvulsies moet beheer word deur byvoorbeeld valium. Indien dier kan sluk word geaktiveerde koolstof ingegee om enige orige gifstof te absorbeer. Die teenmiddel word gegee totdat die simptome van vergiftiging opklaar. ‘n Dier kan ‘n paar dae of langer in die hospitaal wees afhangend hoeveel gif hy ingekry het en as hy dit oorleef…
Temik vergiftiging is ‘n aaklige manier vir ‘n dier om dood te gaan. Vermy vergiftiging van u diere deur hulle byvoorbeeld te leer om net kos van u en u gesin te aanvaar. Honde moet verkieslik binneshuis/in ‘n buitekamer of garage in die aand slaap. Buite is hul niks werd as beskerming nie aangesien hulle maklik vergiftig kan word. Indien u honde ongelukkig vergiftig word laat die polisie weet en wees paraat want misdadigers kan wag om toe te slaan. As u vermoed u dier is vergiftig gaan so gou moontlik na ‘n veearts sodat hul lewe hopenlik betyds gered kan word.
Deur Dr Minette Nel (BVSc) Thabazimbi Dierekliniek h/a Kransberg Dierekliniek. Bron: Journal of the South African Veterinary Association.