Skaars wild lewer bykans R28,8 miljoen omset

Verskeie rekords is opgestel tydens die Soutpansberg Skaarswild Studiegroep se jaarlikse veiling op 10 Augustus op Alldays. Die veiling het ‘n totale omset van bykans R28,8 miljoen opgelewer.

Daar was ‘n goeie aanbod van uitstaande skaarswild wat derhalwe kopers van so ver as die Oos-Kaap, Vryburg en Malelane gelok het.

Die rekord vir swartwitpensverse is twee keer tydens die veiling verbeter tot R450 000. Die 11 verse verkoop vir ‘n gemiddeld van R362 728, met die ou rekord vir ‘n enkele vers wat gestaan het op R440 000. Daar is ook twee rekords verbeter op Kruger buffels, naamlik R760 000 (vanaf R660 000) vir ‘n vers en R775 000 (vanaf R630 000) vir ‘n koei en kalf.

In die hokveiling vir teelgroepe behaal buffelverse ‘n gemiddelde prys van R300 000 (hoogste R325 000), terwyl koedoes gedek deur ‘n wit bul vir ‘n gemiddelde prys van R8 000 onder die hamer kom. Livingstone elande en Livingstone elandkoeie verkoop onderskeidelik vir ‘n gemiddeld van R22 000 en R33 567 (hoogste R45 000). Een swartwitpenskoei verkoop vir R270 000, terwyl Zambiese kruis-swartwitpenskoeie verkoop vir R370 000. Die gemiddelde pryse van Zambiese kruis-swartwitpensverse, buffelkoeie, wit koedoekoeie en wit split koedoeverse was onderskeidelik R306 429 (hoogste R325 000), R362 5000 (hoogste R375 000), R224 000 (hoogste R350 000) en R14 000.

In die hokveiling vir manlik diere verkoop buffelbulle vir ‘n gemiddelde prys van R97 500 (hoogste R120 000), met Livingstone elandbulle en jong Livingstone elandbulle wat onderskeidelik verkoop vir ‘n gemiddeld van R30 429 (hoogste R50 000) en R110 000 (hoogste R120 000). Jong njalabulle, volwasse swartwitpensbulle en jong swartwitpensbulle behaal onderskeidelik gemiddelde pryse van R7 917 (hoogste R10 000), R58 688 (hoogste R180 000) en R23 200 (hoogste R50 000). Zambiese swartwitpens kruis-bulle verkoop vir R23 067 (hoogste R37 000).

In die katalogusveiling vir teelgroepe verkoop bastergemsbokverse vir ‘n gemiddeld van R200 000, met basterhartbeeste en gemsbokke gedek deur goue bulle wat vir ‘n gemiddeld van onderskeidelik R18 125 (hoogste R20 000) en R25 000 onder die hamer kom. Een buffelkoei en een buffelvers verkoop onderskeidelik vir R400 000 en R760 000 elk, terwyl njalas, witrenosters en rooibokke gedek deur ‘n swart ram verkoop vir gemiddelde pryse van onderskeidelik R6 893 (hoogste R7 750), R202 500 (hoogste R220 000) en R5 500 (hoogste R7 500). Split rooibokooie, swartwitpense, buffelkoeie met kalwers en dragtige buffelkoeie se gemiddelde pryse was onderskeidelik R9 750 (hoogste R10 000), R330 000, R687 500 (hoogste R775 000) en R430 000 (hoogste R690 000). Een buffelkoei verkoop vir R300 000. Swartwitpenskoeie en goue wildebeeste verkoop onderskeidelik vir gemiddelde pryse van R460 000 en R350 000.

Wat die katalogusveiling vir manlike diere betref, verkoop een jong buffelbul vir R235 000 en een witrenosterbul vir R290 000. Volwasse buffelbulle, njalabulle en volwasse swartwitpensbulle word vir gemiddelde pryse van onderskeidelik R745 000 (hoogste R1,4 miljoen), R13 000 (hoogste R14 000) en R450 000 verkoop. Swart rooibokramme behaal ‘n gemiddelde prys van R151 111 (hoogste R220 000).

Die veiling is aangebied deur Vleissentraal Bosveld, met mnr. Willie Roux as afslaer. (LiN Nuus / Zoutpansberger)