Huldeblyk aan geliefde polisieman
THABAZIMBI – ‘n Bekende en geliefde polisieman van Lephalale (Ellisras) adjudant-offisier Bobbie Schutte (39) is Donderdag 9 Augustus 2012 in ‘n skietvoorval op die Lephalale Vaalwater pad oorlede. Bobbie, seun van Frans en Maureen Schutte van Thabazimbi, was ‘n oudleerling van Laerskool Thabazimbi en ook Hoërskool Frikkie Meyer. Na matriek is hy polisiediens toe, waar hy 2 jaar by die polisiekollege was en daarna 2 jaar by die wag eenheid en daarna na Mara Polisiestasie by Polokwane. Hy is vanaf Polokwane na Villa Nora Polisiestasie verplaas en na sy troue met Marlize na Lephalale Polisiestasie, waar hy die afgelope 16 jaar diens gedoen het. Sy begrafnis het plaasgevind op Vrydag 17 Augustus 2012 te Lephalale. Hy laat sy vrou Marlize, twee seuntjies Shawn en Ivan, sy ouers Frans en Maureen asook sy broer Roelf en sy vrou Wilma en dogtertjie Simoné agter. Sy ontydige afsterwe word diep deur die familie betreur. Die familie betuig graag hul dank teenoor die gemeenskap vir al die ondersteuning deur middel van oproepe, sms’e en besoeke wat hul in hierdie moeilike tyd ontvang het.