DA verkla die Thabazimbi plaaslike munisipaliteit by die menseregte kommissie
THABAZIMBI – Raadslid Piet Strydom het namens die DA Thabazimbi ‘n amptelike klag by die menseregte kommissaris ingedien teen die munisipaliteit ten op sigte van oortreding van Hoofstuk 2 van die Wet op Menseregte.
Die oortreding spruit uit die feit dat die munisipaliteit die gemeenskap van die informele nedersetting van Northam, bekend as Helen Park, die toegang tot skoon water ontsê.
Die probleem kom al ‘n geruime tyd. In Januarie 2012 het die DA die situasie met die vorige munisipale bestuurder, mnr TSR Nkumise, bespreek en gevra vir ‘n watertenk wat die munisipaliteit dan met die waterkar kan vul. Die DA is toe meegedeel dat die munisipaliteit nie die geld daarvoor het nie. Raadslid D Daniels het die saak met mnr S Pilane van Anglo Platinum opgeneem en hulle het onderneem om twee 10 000liter-tenks te skenk.
Die bestelnommer is verkry, maar steeds het die aankope van die tenks gesloer. Volgens mnr Strydom het mnr Pilane het elke keer met nuwe verskonings gekom. Op Woensdag 16 Augustus 2012 het die nuwe persoon wat in mnr Pilane se plek is vir raadslid Daniels meegedeel dat die munisipaliteit die myn opdrag gegee het om die aankope te staak.
Volgens raadslid Strydom het hy dus geen alternatief gehad as om die plaaslike munisipaliteit formeel aan te kla nie.
Die menseregte kommissaris es kantoor het binne 72 uur gereageer en mnr C Booysen van die munisipaliteit het raadslid Strydom op Maandag 20 Augustus 2012 meegedeel dat hy die myn gevra het om voort te gaan met die verskaffing van die tenks. Verder het mnr Booysen raadslid Strydom meegedeel dat hulle van Dinsdag 21 Augustus 2012 op gereelde basis die waterkar sal stuur sodat die inwoners ten minste hulle houers vol water kan maak tot tyd en wyl die tenks opgerig is.
“Hierdie saak wys dat niemand bokant die wet verhewe is nie en dat almal deur dieselfde wette gebind is.” Het raadslid Strydom aan Kwêvoël gesê. Die inwoners van Helen Park bedank graag vir mnr Booysen vir die rol wat hy gespeel het om hulle van water te voorsien.