General

AfriForum skenk R100 000 vir Outa se regskoste in e-tolsaak

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het ‘n bedrag van R100 000 aan die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (Outa) geskenk as bydrae tot Outa se regskoste in die hofstryd teen die implementering van die e-tolstelsel op Gautengse hoofweë. Die konstitusionele hofsaak, waarin die regering appèl aanteken teen die interdik wat die Noord-Gautengse hooggeregshof teen die implementering van die e-tolstelsel toegestaan het, is op Woensdag, 15 Augustus aangehoor.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ‘n beroep op die publiek, maatskappye en ander burgerlike organisasies gedoen om AfriForum se voorbeeld te volg deur ook ‘n bydrae tot Outa se regskoste te maak, aangesien ? suksesvolle hofstryd teen die e-tolstelsel tot voordeel van almal in die land sal strek.

Volgens Kriel verkeer die owerhede onder ‘n wanindruk dat hulle kan wegkom met die wanbesteding van die publiek se geld – soos wat die geval is met die e-tolstelsel se buitensporige hoë invorderingskostes – omdat hulle glo die burgerlike samelewing beskik nie oor die hulpbronne om die owerheid in die hof tot verantwoording te roep nie. “Bydraes deur die publiek het dit al telkens vir AfriForum moontlik gemaak om wanpraktyke in die howe te pak en AfriForum glo die publiek sal dit nou ook vir Outa moontlik maak om sy hofstryd teen die e-tolstelsel voluit voort te sit,” het Kriel gesê.

Diegene wat tot Outa se regskoste wil bydra, kan dit direk op Outa se webwerf doen, of kan deur AfriForum se SMS-lyn R10 skenk deur die woord “tol” te SMS na 38655.

Woensdag se konstitusionele hofsaak is volgens Kriel ook van kardinale belang omdat die regering verkeerdelik aanvoer dat die interdik teen e-tol daarop neerkom dat die hof inbreuk gemaak het op die regering se mag om beleid te formuleer. “Dit is belangrik dat hierdie wanvoorstelling in die hof beveg word. Geen hof skryf regeringsbeleid voor nie, maar wanneer die implementering van enige beleid egter in stryd is met die Grondwet of wetgewing, het die howe ‘n duidelike grondwetlike mandaat om toe te sien dat die Grondwet en wetgewing eerbiedig moet word,” het Kriel gesê.

Kriel het daarop gewys dat die regering eerder moet toesien dat die beleid wat hy implementeer nie die Grondwet en wetgewing minag nie. “Die regering bedreig die oppergesag van die reg deur voortdurend die howe die sondebok vir die regering se miskenning van wetgewing te wil maak,” het Kriel bygevoeg.