Thabazimbi Skou terugblik
‘n Terugblik op die skou gee mens die geleentheid om sterk- en swakpunte beter te onderskei.
Organiseerders weet altyd van al die foute en meestal is die publiek onbewus daarvan (gelukkig).
Die mooi of suksesvolle oomblikke streel die ego van organiseerders en word dit baie maklik uitgelig en weer en weer beleef.
Vandag is dit nie anders nie en wil ek graag die saak uit ‘n ander hoek stel.
Ek begin graag met dankies:
Die Kwêvoël wat ons ondersteun het en ruimte vir bekendmaking en vooraf bemarking in die koerant gebied het: Dankie.
Die gemeenskap wat die skou ondersteun het en bygedra het om ‘n rekordskou daar te stel – dankie.
Die onderskeie komitees wat almal ekstra treë gegee het. Sonder hulle kon niks wees nie – dankie.
Die borge en ondersteuners: Sommige slaan groot munt uit betrokkenheid, ander gee sommer net mildelik. Baie dankie. Sonder die ondersteuning kon niks wees nie.
Die uitstallers en vertoners vanoor die hele land – dankie.
Die bestuur by die skou het hulle ten doelgestel om nie net wins te jaag nie. Hekgelde is weereens vanjaar nie verhoog nie. Dit gee besoekers die geleentheid om eerder aan hulle families by stalletjies en kos te spandeer.
Daar is ook besluit om eerder kwaliteit stalletjies te bied, stalletjies wat waarde bied eerder as om ‘n massa stalletjies toe te laat. Ons beplan om volgende jaar self strenger keuring te doen om sodoende die standaard verder te verhoog.
Ons terrein is opgeknap en verbeter. Ons sale is deur borge opgegradeer. Hierdie sale en die res van die terrein is ook beskikbaar vir funksies. Tariewe is by die skoukantoor beskikbaar. Dankie aan almal wat ‘n bydrae gelewer het.
Skougroete
Jan Trichardt