Thabazimbi Hengelklub kompetisie
THABAZIMBI – Die hengelklub het die naweek van 28 Julie hul maandelikse kompetisie aangebied by die konsentrator te Amandelbult. Die vangste vir die dag was nie so goed in vergelyking met die vorige kompetisie nie. Gedurende die vorige kompetisie, omtrent ‘n maand of twee gelede, wat by dieselfde dam aangebied is, het die klub niks minder as 2.5 ton barbers daar gevang. Die wind het ysig koud gewaai wat veroorsaak het dat die temperatuur van die water gestyg het en die visse traag gemaak het om te byt. Gelukkig het ‘n paar van die seniors darem ‘n paar barbers aan die byt gekry. Die volgende plekke is behaal. In die Senior afdeling het Jan Botha die eerste plek ingeneem, Gerhard Somers in tweede plek en Ralph Kissack het derde plek ontvang. Die dames en junior afdelings het lee hoeke te voorskyn gebring en die in penkoppe afdeling was Martin Scheepers die wenner. Thabazimbi Hengelklub het vier hengelaars wat hierdie jaar gekwalifiseer het vir hul Noordweskleure. Willem Heydenrych en Jan Bender gaan die week van 12 -16 November aan die SA Meester Kampioenskappe deelneem te Vaaldam. Die dames is Martie Murray en Nicolene Heydenrych wat in Februarie 2013 aan die SA Kampioenskappe te Bloemhof gaan deelneem. Namens die klub word hulle alle sterkte en voorspoed vir die kampioenskappe toegewens.
Die hengelaars wat gekwalifiseer het vir hul Noordwes kleure is agter vlnr Nicolene Heydenrych en Martie Murray en voor vlnr Willem Heydenrych en Jan Bender.