Raadslid in Thabazimbi gekaap
THABAZIMBI – Rdl. Derick Daniels is Maandagmiddag, 30 Julie 2012, in Steenbokstraat gekaap. Hy was op pad om die ANC-optog dop te hou. Twee mans het hom in Steenbokstraat voorgekeer en gevra om saam te ry na die optog.
Hy kon uit hulle aksente aflei dat hulle nie Suid-Afrikaanse burgers is nie. Die kaper wat agter gesit het was gewapen en rdl. Daniels is beveel om hulle instruksies uit te voer. Volgens rdl. Daniels het alles onwerklik gevoel, so asof dit ‘n fliek was wat voor jou afspeel of asof ‘n mens gehipnotiseer is.
Hulle het gevra hoeveel geld hy hulle kan gee. Hy het geantwoord dat hy R2 000 kan trek, maar hulle het duidelik nie daarin belanggestel nie en hom vertel dat hulle nie lus is vir speletjies nie. Op hulle bevel is hulle na ABSA, aangesien rdl. Daniels meer geld by die tellers kan trek as by die OTM. Weereens het hulle hom beveel om meer as R5 000 te trek. Rdl. Daniels het R10 000 onttrek uit sy rekening en is daarna beveel om na die brandstofdepot agter Spur te ry.
Hy is van die kontant en sy selfoon beroof, maar gelukkig nie sy motor nie. Hy is erg getraumatiseerd na die voorval en het nog nooit so in sy lewe gevoel nie. Hy het die saak aangemeld by die SAPD, maar die rowers is steeds op vrye voet.
Rdl. Derick Daniels wat Maandagmiddag, 30 Julie 2012, in Steenbokstraat gekaap is.