General

Kotzé kan tussen reg en verkeerd onderskei, sê verslag

Johan Kotzé

Bela Bela – Mnr Johan Kotzé (50) kan tussen reg en verkeerd onderskei en kan verhoor word. Hy is dus toerekeningsvatbaar.

Dít is die bevinding van drie psigiaters wat Kotzé, die sogenaamde Modimolle-monster, twee maande lank in die Weskoppies Psigiatriese-hospitaal waargeneem het.

Die psigiaters se verslag is verlede Vrydag, 20 Julie, aan die staat beskikbaar gestel.

Kotzé het in Mei in die Modimolle-landdroshof gevra dat die hof hom vir sielkundige waarneming moet stuur. Hy het aangevoer dat hy ten tyde van sy beweerde misdade nie toerekeningsvatbaar was nie.

Kotzé staan saam met mnre. Andries Sithole, Peter Ohlako en Sello Frans Mphaka tereg op sewe aanklagte en drie alternatiewe aanklagte wat onder meer verkragting, moord, ontvoering, poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig  te beseer insluit.

Die saak, wat landwyd opslae gemaak het, spruit uit ’n voorval in Januarie vanjaar waarin me. Ina Bonnette, Kotzé se eks-vrou, grusaam aangerand en verkrag is en haar seun, Conrad Bonnette (19) glo na die huis gelok en doodgeskiet is.

Nadat die psigiatriese bevinding bekend gemaak is, het mnr. Rex Bonnette, Conrad se pa, vandeesweek aan Die Pos gesê: “Ek weet hoe voel dit om sonder my briljante kind te lewe en ten spyte daarvan moet ek vergewe.

“Ek kan nie weer oor begin met ’n nuwe gesin en ’n nuwe kind van geboorte af groot te maak nie. Dit is nie dieselfde nie. Conrad was uniek as mens, soos God hom geskape het en die vyand het hom ongelukkig kom wegvat. Hy is in God se hande en ons sal hom weer eendag sien.”

Kotzé word nou weer in die Pretoriase Sentrale Gevangenis aangehou . Die verhoor begin op Maandag, 19 November, in die hooggeregshof in Pretoria. — LiN Nuus/Die Pos