Community

Groot opkoms by Apiesdoringkarnaval

THABAZIMBI – Die jaarlikse Apiesdoringkarnaval wat deur die Hervormde Kerk Vliegepoort aangebied word het hierdie jaar uit sy nate gebars en kan glad nie met ‘n bazaar vereenselwig word nie.

Vroeg oggend het die motors al die parkeerterrein vol gepak, en honderde karnavalgangers het opgedaag vir hierdie groot dag. ‘n Groot getal vleis vir verwerking en verkoop op hierdie dag is geskenk deur die lidmate asook enkele nie lidmate nie, onder andere 54 beeste, 60 Wildskarkasse, 40 mak varke en 56 skape. Die droë biltong wat beskikbaar was, 1,2 ton, is  binne ‘n kwessie van 4 ure uitverkoop. Die plaasstal het meer as 800 botteltjies ingemaakte konfyte verkoop, die Tuisgebak stallietjie het 230 groot koeke en 250 terte verkoop. Aan vermaak vir oud en jonk was daar nie ‘n tekort nie en talle kompetisies het die feesgangers besig gehou. Onder hierdie kompetisies was die Afrikaner osraai, waar die gewig en die horinglengte van hierdie 20 jaar oue os geraai moet word. Die proses om die horings gemeet te kry was nogal ingewikkeld, want Johan Nortje is nader geroep om hierdie moeilike taak aan te durf. Die ou os moes verdoof word aangesien hy nie ‘n kalant is wat sonder handskoene aangepak kan word nie. Hy het hewig teen die verdowing geveg en moes vasgehou word vir die meet proses. Izak Joubert het die horings van die punt oor die kop tot die ander punt gemeet en die totale lengte was 2.53m. Die bul bulk kompetisie wat geborg is deur Northam Toyota is gewen deur Piet Joubert wat ook op ‘n vorige keer die donkie geluid namaak gewen het. Die man het defnitief ‘n talent wat dit betref. Die pryswenners van die Koop ‘n R100 kaartjie is soos volg. Wilma Anderson van Oudekraal Thabazimbi wen die R50 000 kontant, die tweede prys is gewen deur Marie Wasserman ook van Thabazimbi, JC Visser van Rustenburg stap weg met die derde prys, J Vorster van Thabazimbi het die vierde prys gewen en Frik van Wyk van Centurion die vyfde prys. Daar was hope om van te kies en te keur vir die hongeriges en die pannekoek stalletjie het ‘n totaal van 400 liter deeg gebruik vir die dag. Steve en sy seun Armand was dan ook ‘n groot trekpleister en die wat nie ‘n plekkie op ‘n stoel kon kry nie, het sommer op die gras gesit. Die bekende lied wat in die film Plattelanders gesing word oor Pa en Seun het dan ook groot byval by die gehoor gevind. Steve het van die verhoog af gesê dat hy dit baie geniet het om hier in Thabazimbi te kuier en het selfs later gebly as beplan om nog foto tyd af te staan. ‘n Rekord omset vir die dag is behaal, waarvan 30% aan barmhartigheid geskenk word. Die res van die fondse word aangewend vir die ontwikkeling van ‘n jeugkampterrein op die Hervormde Kerk Vliegepoort se plaas Tarentaalpan in die omgewing. Daar word beoog om hierdie kampterrein teen ‘n minimale koste aan die gemeenskap beskikbaar te stel. Groot dank word uitgespreek aan die gemeenskap wat soveel insette gelewer het en hierdie dag so mooi ondersteun het om daarvan so ‘n groot sukses te maak.