Weldoeners gearresteer

Benoude personeel van Marapong Medi-Clinic het naarstigtelik geld ingesamel vir die borgtog van hulle tegniese bestuurder, Fanie Greyling, wat verlede Saterdag tydens die Bosveldfees gearresteer is.
Volgens Verpleegsbestuurder, Celia Sharp, is meer as R 10 000 ten bate van CANSA ingesamel. Greyling en ander weldoeners is Saterdag deur gewapende wagte geboei en moes voor ‘n prokureur om hul vrylating pleit. Dié moes lywige klagstate aanhoor van Tharina Rossel, presidente van VLU Noord, De Wet van Wyk van Enviro Chainsaw, Robert Boonzaier van Wimpy, Riana Bronkhorst (CANSA-beampte) en Elana Greyling (vrywilliger). ‘n Gefnuikte ontsnappingspoging het vir groot opwinding onder toeskouers gesorg. Gelukkig is almal veilig vrygelaat.
“Ons wil graag besighede en lede van die gemeenskap bedank vir hulle vrygewigheid en positiewe samewerking in CANSA se ‘Jail-‘n-Bail’-projek. Dit stel ons in staat om voort te gaan met uiters noodsaaklike werk in ons eie gemeenskap,” vertel projekleier, Riana Bronkhorst.
Verskeie vrywilligers van die plaaslike tak in Lephalale het onder voorsitterskap van Marika van Zyl hard gewerk tydens die Bosveldfees om gesiggies te verf, hare te sprei en broodnodige inligting uit te deel in die groot stryd teen kanker.