Solidariteit Helpende Hand belê in gemeenskappe
Solidariteit Helpende Hand sal oor die volgende jaar R1,15 miljoen terugploeg in die gemeenskap. Danksy die inwerkingstelling van ’n nuwe takbefondsingsplan sal elke Helpende Hand-tak R10 000 van die organisasie ontvang om in die gemeenskap aan te wend vir elke 15 nuwe ondersteuners wat by ’n tak aansluit.
Die plan verseker dat ondersteuners se fondse ten volle in hulle eie gemeenskappe aangewend word. Helpende Hand se takke fokus op dienste wat gerig is op alle lede van die gemeenskap, van kleuters tot bejaardes, waardeur die beleid van opheffing-deur-opleiding bevorder word.
Helpende Hand se krag lê in die vrywilligers en ondersteuners wat die werk van die organisasie moontlik maak. Dié mense se bydraes van tyd, kennis en fondse maak dit vir Helpende Hand moontlik om die geveg teen armoede voort te sit.
“By Solidariteit Helpende Hand volg ons ? beleid van bemagtiging en opheffing deur middel van opleiding, want ons glo dat dit die beste manier is om armoede uit te roei,” sê dr Danie Brink, die uitvoerende hoof van Helpende Hand. “Ons omvattende dienswaardeketting behels ’n deurlopende begeleidingsproses wat geestelike, kulturele en maatskaplike armoede aanspreek en ’n kleuter, kind, student en jongmens uiteindelik help om voor te berei vir die wêreld van werk. Ons kan hierdie belangrike taak slegs met die hulp van ons vrywilligers verrig.”
Helpende Hand doen ’n beroep op die publiek om hierdie plan van hoop te ondersteun deur by sy takke betrokke te raak.
Om betrokke te raak by ’n tak in Limpopo, skakel Marianthie van der Walt by 082 741 7858.