Slegs 6% van Limpopo se munisipaliteite kry skoon verslae
Die burgerregte-organisasie, AfriForum het sy kommer uitgespreek oor die ouditeur-generaal se verslag wat in Johannesburg bekendgemaak is. Luidens die verslag voldoen slegs 6% van Limpopo se munisipaliteite aan die vereiste standaarde.
Volgens Tiaan Esterhuizen, AfriForum se organiseerder in Limpopo, blyk dit duidelik uit die verslag dat die staat nog geen werklike vordering gemaak het om die bestuursonbevoegdheid in Limpopo se munisipaliteite te verander nie.
Van die redes wat die ouditeur-generaal vir die swak prestasie in die verslag aantoon, is dat daar ’n gebrek aan leierskap is en dat munisipale amptenare nie oor die nodige vaardighede beskik om die werk te doen nie.
Wat AfriForum verder bekommer, is munisipaliteite se ongemagtigde en onreëlmatige uitgawes wat tot R1 miljard beloop.
Die verslag dui verder aan dat 84% van die munisipaliteite se rekeningkundige beamptes nie die nodige stappe gevolg het om die onreëlmatige besteding te stop nie.
Daarby is byna R13 miljoen se tenders aan raadslede en munisipale amptenare toegeken. Die ongerymdhede het landswyd met 46% toegeneem vergeleke met verlede jaar.
Die verslag se inhoud spreek vanself. Die feit dat Limpopo se munisipaliteite nie oor die vermoë beskik om dienste te lewer of om amptenare aan te stel wat gemeenskappe na behore kan bedien nie, plaas bykomende druk op gemeenskappe regoor die land.
Burgerregte-organisasies soos AfriForum – wat munisipaliteite dwing om hul pligte na te kom en gemeenskappe mobiliseer om hulle regte op te eis – raak juis om hierdie rede van ál groter belang.