Community

Renosterstropers word al slimmer

ROOIBERG – Spore van drie renosterstropers is op Dinsdagoggend 10 Julie op ‘n plaas naby Rooiberg gevind.

‘n .375 jaggeweer is deur die stropers agtergelaat na ‘n kort onderonsie tussen die spoorsnyers en die renosterstropers.

Na 102 km en 31 ure se spoorsny is die renosterstropers ongelukkig opgelaai langs die teerpad tussen Koedoeskop en Warmbad.

Daar is ondervind dat die stropers opleiding of ondervinding het met teenspoorsny wat dit ‘n uitdaging maak om hul spoor te volg. Dit is baie belangrik om ‘n professionele span spoorsnyers te betrek om sodoende die kanse op sukses te verhoog.

Die plaaseienaar en plaasbestuurder wil graag almal opreg bedank wat gehelp het en betrokke was: Kaptein Thapela, AO Jaco Havenga en die res van die Thabazimbi Polisie wat bystand gegee het met die insident; lede van STTU(Specialized Tactical Tracking Unit) “Pottie”, Rudi en Juan. Baie dankie vir Bruno en Arno die twee spoorsnyhonde; spoorsnyers van Naboomspruit; lede van die boereverenigings asook boere in die omgewing, sover as Koedoeskop wat gehelp het om paaie toe te maak en kol Prinsloo (Verdrag), baie dankie aan Pick n Pay en Thaba SuperSpar wat kos en drinkgoed aan almal op die grond verskaf het .

 

Die .375 jaggeweer wat deur die stropers agtergelaat is nà hul poging tot stropery in die wiele gery is.