Community

Oud Bosvelder oorlede

Pieter Erasmus (75) se plekkie in die Bosveld is nou leeg na sy afsterwe op 3 Julie 2012. Foto verskaf deur Doves Thabazimbi.

THABAZIMBI – ‘n Oudinwoner van Thabazimbi, Pieter Erasmus (75) is op 3 Julie 2012 oorlede.

Pieter is gebore in die Thabazimbi-area en het sy skoolloopbaan in die Kransberg skooltjie begin en later by Ysterberg voltooi. Na skool het hy hom as Ketelmaker by die ou Iskor bekwaam waarna hy na ‘n tydperk van 40 jaar pakket geneem het om op sy boerdery te fokus. Sy plaas is deur Marakele Eiendomsbeperk oorgekoop en hy en sy eggenote, Fransie, het in die dorp kom aftree.

‘n Magdom van tere en soete herinneringe sal altyd bly voortleef. Pieter sal onthou word vir sy toewyding, liefde en aandag. Vir ‘n glimlag wat geen geld ooit kon koop. Sy familie en vriende is verslae oor sy heengaan, maar berus in die wil van hul Skepper wat lewe gee en neem.

Sy heengaan word diep betreur deur sy eggenote van amper 50 jaar, Fransie, sy drie seuns, Pieter, Fanie en Jaco en kleinkinders Pieter jnr en Marina. Hulle groet hom met die woorde: “Ek het jou naam in die sand geskryf, maar die branders het dit weggespoel. Toe het ek jou naam in die lug geskryf, maar die wind het dit weggewaai. Nou het ek jou naam op my hart geskryf. En bly sal dit bly, vir ewig.”

Pieter se begrafnisdiens het plaasgevind op Vrydag 6 Julie om 10:00 vanuit die Gereformeerde Kerk Thabazimbi, ds Dirk Laufs het die diens gelei.

Die familie bedank graag die gemeenskap, vriende en almal wat hulle in hierdie droewige tydperk ondersteun het met oproepe, sms’e, eetgoed, ruikers en besoeke. Hulle bedank ook dr Buys en die personeel van Medi-Clinic Thabazimbi vir hul bystand.