Mylpaal vir TAR
THABAZIMBI – Thabazimbi Animal Rescue is onlangs as ‘n nie-winsgewende organisasie geresisteer.
Die verkryging van hierdie status as geregistreerde nie-winsgewende organisasie kan baie deure vir die hierdie liefdadigheidsorganisasie oopmaak. Om mee te begin, kan groot maatskappye nou ‘n bydrae lewer, aangesien hulle nou oor ‘n registrasie nommer beskik.
TAR se doel is om te praat namens mishandelde, weggegooide en rondloper diere in die Thabazimbi omgewing. Enigeen wat onder die indruk verkeer dat dit nie regtig ‘n groot probleem in die gemeenskap is nie, is welkom om by self by die hokke te kom kyk hoeveel diere daar versorg word, wat andersins in die strate sou rondgedwaal het.
Nou stop party mense om die artikel te lees. Want, ‘dis nie my probleem nie, ek versorg my troeteldiere goed’.
Verkeerd! Onlangs is ‘n jongman in Swartklip deur ‘n rondloper Labrador gebyt wat hondsdolheid onder lede gehad het. Hoe seker is u dat dit nie met u kan gebeur nie? Hoe meer rondloper diere daar in die gemeenskap is, hoe groter is die moontlikheid dat nog onskuldige mense hierdie uiters gevaarlike siekte kan opdoen. Hoe sal u voel as u getroue vierpoot-kind dol raak omdat ‘n hondsdol rondloper-hond hom gebyt het? En as hy/sy daarna vir u, sy geliefde baas wat mooi vir hom sorg, aanval en byt sodat u dan hondsdolheid opdoen?
Met TAR wat hulle bes doen om rondloperdiere van die straat af te kry, is daardie moontlikheid baie skraler. Ongelukkig maak menige daagliks misbruik van hierdie diens. Hulle gebruik TAR om van diere waarvoor hulle moeg geraak het, ontslae te raak. Soos wanneer hulle trek. Nie lus om ‘n lang pad met diere aan te pak nie, word die diere eenvoudig by die huis gelos vir TAR om te gaan haal en in die hokke te gaan sit. Hopelik sal ‘iemand, iewers, eendag’ daardie weggegooide hond huis-toe vat.
Aangesien TAR nou geregistreer is, doen hulle ‘n beroep op die groter besighede in die streek om TAR te borg sodat hulle kan betaal vir die viervoetige weeskinders wat in hul hokke op ‘n nuwe huis wag. TAR benodig geld om te betaal vir hierdie diere se kos, komberse en mediese rekeninge (wat so laag as moontlik is omdat die veeartse die kostes tot op die been sny ter wille van die saak!)
TAR bedank almal wat gehelp het en hard werk om hierdie uiters belangrike mylpaal te bereik. Vir enige navrae kan u een van die volgende nommers skakel: Andrea: 0835755815; Annelie: 082651464 of Tanya: 0848856487.