Meer oor piouter by Northam VLU

Die dames van Northam VLU geniet die Piouterklas.

NORTHAM – Die dames van Northam VLU het op Donderdag 21 Junie ‘n heerlike vergadering propvol interessanthede by die Veilingskrale gehou.

Die vergadering is afgeskop met sjerrie teen die koue, en die jaarlikse prysuitdeling is gehou. Trofeëwenners was as volg: Hannetjie du Plessis wen die trofee vir Gebak met 80%, asook die trofee vir Preservering met 80%. Annatjie Dreyer en Mari Meintjes deel die Naaldwerktrofee met 85% elk. Dina Smith en Mari deel die Breiwerktrofee met 85% elk. Mari wen ook die Borduurtrofee met 90%, die Handvlyttrofee met 85% en is die Algehele Jaarwenner van die tak se Wisseltrofee.

Na afloop van die prysuitdeling het Ems Strydom van Wes Enterprises die dames toegespreek oor Mieliemeel. Sy het die dames vertel dat jy nie pap in aluminiumpotte moet gaarmaak nie, dit kan aluminiumvergiftiging veroorsaak. Water moet goed kook voor jy die pap maak. Oorskietpap kan vir papbolletjies gebruik word. Stoor jou mieliemeel met welslae in die vrieskas of yskas.

Hierna is die innerlike versterk met sop en broodjies, en het Marthie Schruton die dames die fynere kunsies van Piouter geleer, en die voorblaaie van notaboekies is met Piouterwerk versier. Piouter kan ook met welslae in Scrapbooking gebruik word. Om deel te word van Northam VLU, skakel Mari Meintjes by 082 086 4915.