Jong Pa sterf in motorfietsongeluk

Francois Nortjé (27) het op Donderdagnag 28 Junie tragies in ‘n motorfietsongeluk gesterf. Foto verskaf deur EconoFunerals.

THABAZIMBI – Francois Nortjé (27) se afsterwe op Donderdagnag 28 Junie, na ‘n motorfietsongeluk slegs ‘n paar treë van sy woning, was ‘n geweldige skok vir almal wat hom geken en liefgehad het.

Francois, seun van Hannes en Malinda Nortjé van Thabazimbi, het op 11 jarige ouderdom saam met sy ouers na Thabazimbi verhuis. Hy het sy skoolloopbaan by Laerskool Thabazimbi begin en aan Hoërskool Frikkie Meyer gematrikuleer. Hy het as Dieselwerktuigkundige gekwalifiseer en by die familie besigheid, JJ Nortjé Auto gewerk.

Francois was op Woensdagaand, 27 Junie, in ‘n motorfietsongeluk betrokke en het kwart oor 12 Donderdagnag gesterf.

Sy familie en vriende betreur sy heengaan, maar berus hul daarin dat hy ‘n wedergebore kind van God was en dat hy gereed was om sy Skepper te ontmoet. Sy plekkie by sy gesin is egter nou leeg, maar hy sal altyd in hul harte voortleef.

Hy word oorleef deur sy pa, Hannes, sy ma Malinda, broer Hannes, sussies Melissa en Cara, sy geliefde Cindy, sy seuntjie Juandre (2½ jaar) en skoonsus Karlien.

Francois se begrafnis het op Donderdag 5 Julie vanuit die AGS Kerk Thabazimbi plaasgevind.